Die bok het my gestamp

Kleinboet (hy mag dalk omgekrap wees as ek hom kleinboet noem, hy is ‘n groot, breed geskouerde man) het so ‘n klompie jare terug as ‘n veld gids gewerk daar by een van daai grend wildplase annerkant Pretoria. Mabula , as ek reg onthou. Om die eksterne kontrakteurs soos Eskom en Telkom se outjies veilig te hou tussen die wilde diere het die wildplaas ‘n standaard reel gehad dat kontrakteurs nooit alleen in die veld mag werk nie. Die idee was dat een man die werk doen , terwyl die anner man kywie hou vir diere wat hulle veiligheid mag benadeel.

So kom dit dat daar eendag ‘n man van Telkom ( ek dink dit was Telkom) daar by die kantoor aankom. Man , maar die knaap is gehawend. Stof en bloed en snot en stukkende plekke. En hy hakkel en bewe van die skok. Nadat hulle die man so effens kalmeer het probeer hulle agter die kap van die byl kom.  Omtrent al wat hulle uit die knaap kan uitkry is dat die bok hom gestamp het. Watse bok? Nee hy weet nie.  Uiteindelik kom hulle toe sover om te leer dat die knaap alleen veld toe is om aan een of ander toring of iets van sy instansie te gaan werk. Hy kon met die bakkie tot redelik naby aan die toring kom , maar moes vir die laaste entjie te voet gaan om sy werk te doen.

So kom dit toe dat meneer te aandagtig sy werk doen en nie oplet na die omgewing , en meer spesifiek, die diere om hom nie. Totdat hy van aangesig tot aangesig kom met ‘n bok wat hom summier aanval. En duidelik het die ‘bok’ hom ook sleg gekarnuffel voor hy dit tot by sy voertuig kon maak. Kleinboet hulle probeer allerhande truuks om by die man uit te vind watse ‘bok’ dit was wat hom aangeval het , maar hy weet nie. Uiteindelik dink meneer egter dat hy tog die ‘bok’ op ‘n foto sal kan identifiseer.

So gesê , so gemaak . Kleinboet hulle gaan haal ‘n boek en begin vir meneer bokke wys. Springbok, Rooibok , Blesbok, Kudu, almal van hulle. Geen van die bokke blyk skuldig te wees nie.  Dit is todat die knaap op ‘n stadium opkyk en die ‘bok’ raaksien op een van die muur panele van die Groot Vyf teen die muur.  Ek dink dit was die eerste keer in Kleinboet se lewe waar hy gehoor het dat ‘n Buffel as ‘n bok geklasifiseer is.

Advertisements

Doopsake

Ek moet gou vir julle ‘n Sondag storie vertel voor ek gaan slaap .

Vriend Stefaans is ‘n dominee hier by ons in die gemeente.  Dalk moet ek sê ‘n leerling dominee.  Dis amper soos ‘n man wat ‘n leerling lisensie het vir motorkar ry . Terwyl hy leer om ‘n predikant te wees werk hy ook as ‘n predikant in die gemeente , en dan na so paar jaar se leerdery tesame met die praktiese dinge wat hy nou so in die gemeente leer , dan glo die kerk hy is nou geleerd genoeg om ‘n dominee te wees en dan maak hulle van hom ‘n volle dominee.  Deel van Stefaans se pligte vir die jaar wat hy hier in ons gemeente gewerk het was om oorsig te hê as die predikant vir een van die kleurling gemeentes hier in die dorp.

As deel van sy pligte moet Stefaans toe ook nou die dag ‘n doop diens hou. Nou klink dit vir my die klomp kleurlinge is ‘n vrugbare lot want vir die betrokke Sondag staan daar toe ‘n volle 27 moeders met babas om gedoop te word. Dit klink ook vir my die klomp doen dinge effens anders , want saam met net drie van die moeders staan daar vaders voor die kansel. Die res van die jong dames staan en doop alleen.

Nou ja , om 27 kleintjies te doop neem nou maar ‘n rukkie en die outjies wat laaste in die ry is begin toe ook al goed kriewelrig raak tydens die verigtinge. So is dit dan dopeling nommer 26 se beurt om gedoop te word , en Stefaans neem die knaap oor by sy ma en hou hom vas terwyl hy deur die nodige woorde en dinge gaan. Die knapie was duidelik verveeld en hier van borshoogte af staar hy vir Stefaans stip aan terwyl hy met sy klein handie ‘n vuis maak en sy wysvingertjie reguit maak.

Die volgende oomblik , in die middel van ‘n heel ernstige deel van Stefaans se dopery , druk die knapie daai reguit vingertjie in Stefaans se neus op. Al wat keer dat hy nie daai vingertjie verder in Stefaans se neus kan opkry nie is die feit dat sy vuis teen Stefaans se neusvleuels vasteek.

En soos wat Stefaans self sê. Hy het daai een glad nie sien kom nie, want dopeling nommer 25 het so tydens sy doop Stefaans se bril afgehaal en was rustig besig om daarmee te speel op ma se heup.

Die wiel draai

Kleinboet is so twee jaar jonger as ek. Hy bly in ‘n dorpie so 120km van my af. Toe ons nog kinders in die huis was het Pa ‘n Toyota Cressida 2.8i gery. So ‘n mooi Houtskool grys ene. In munt kondisie. Toe die tyd kom vir Pa on die Cressida te verkoop vir ‘n nuwe ryding , skraap Kleinboet al sy spaar geldjies bymekaar en hy koop daai Cressida by Pa. Daai Cressida het hy soos goud opgepas. Altyd gewas en gepoleer. As dinge verkeerd gaan het hy dit altyd mooi reg gemaak. Geen kolligte of ander derglike na verkope goed op sy kar nie. Die Cressida moes altyd lyk soos toe hy uit die fabriek gekom het.

So nege maande terug besluit Kleinboet om die ondenkbare te doen en maar die Cressida te verkoop. Hy gaan gee toe maar die Cressida in by die  plaaslike motorhandelaar op ‘n komissie ooreenkoms. As die Cressida sou verkoop neem die handelaar sy wins, en as die motor nie verkoop nie kan Kleinboet hom kom terug neem.

Nadat die motor vir so ‘n maand by die handelaar gestaan het sonder om verkoop te word besluit Kleinboet om maar die Cressida te hou. Dis tog eintlik n bleddie lekker motorkar. So gedink , so gemaak en Kleinboet gaan haal die motor.  Soos die ongeluk wil hê kry Kleinboet so paar dae later ‘n pap wiel en daar besef Kleinboet dat sy spaarwiel intussen aan ‘n nuwe eienaar behoort. Want binne in die kattebak is die spaarwiel se bedeking nog steeds daar , maar van die wiel is daar geen teken nie.  Met die eerste geleentheid wat hy kry gaan Kleinboet na die motorhandelaar toe en konfronteer hom met die gat waar die spaarwiel moet wees. Die handelaar het natuurlik onnosel/onskuldig gepleit en Kleinboet moes maar die saak daar los aangiesien hy geen bewyse gehad het nie. Kleinboet moes op die ou end maar noodgedwonge ‘n nuwe wiel en band in die hande kry. Om weer die regte wiel in die hande te kry is bykans onmoontlik en hy moes op die ou end maar met ‘n gewone 14 duim wiel tevrede wees as ‘n spaar.

Nou vertel Kleinboet vir my onlangs die volgende. Hy sit Saterdag more voor die bank en wag vir sy vroutjie om haar verskyning te maak toe ‘n ou flenter Cressida met baie duike en baie verskillend gekleurde panele aan die oorkant van die pad stop. So in sy verveeldheid sit boete die Cressida en bekyk en sien dat een van die motor se bande ‘n Kumho is. Die naam lui vir hom ‘n klokkie en hy sit en wonder waar hy al vantevore die naam gehoor het.  Toe besef hy dat die flenter Cressida se wiele verskil. Voor is daar ‘n 14 duim wiel op soos wat die motor mee uitgekom het , maar agter is daar ‘n 15 duim allooi wiel op. Dieselfde wiele as wat op Kleinboet se eie motor ook is.  En daar lui die klokkie eindelik duidelik genoeg vir Kleinboet om ook te hoor. Dis mos sy wiel at daar agter op die flenter Crissida is !

Kleinboet gryp sy foon en skakel die dorpie se gewapende reaksie outjie. Gelukkig ken hy en Matt mekaar op voornaam terme en Kleinboet oortuig vir Matt dat hy baie vinnig en baie paraat voor die bank moet opdaag om te kom help met die onderhandelinge wat binnekort gaan volg. Matt is gelukkig nie ver nie , en binne minute is die man dan ook daar, gewapen en paraat. Kleinboet klim toe uit en met Matt op sy hakke stap oor die pad om by die man in die ander motor te gaan hoor presies waar hy die wiel in die hande gekry het.

Die man is gelukkig baie slim en besef dat die onderhandelinge dalk sleg verkeerd kan loop as hy nie met die waarheid vorendag kom nie en hy vertel toe ook sommer baie vinnig dat hy die wiel by een van die slaghuis se werkers gekry het.  Net daar en dan komandeer Kleinboet die man op om saam met hom en Matt slaghuis toe te loop om die skuldige te gaan uitwys. Die werker in die slaghuis word uitgewys en hy besef ook gou dat saamwerk sy beste opsie is. Hy het toe te vertelle dat hy die wiel geruil het by die motorhandelaar se werknemer vir ‘n paar biere.

Omdat die motorhandelaar toe is op Saterdae laat Kleinboet hulle die saak toe eers daar. Behalwe vir die man wat nog steeds met die wiel aan sy motor sit. Hy word summier ‘n domkrag in die hand gestop en verduidelik hoe om ‘n wiel af te haal. Kleinboet was hom goedgesind en het hom die 14 duim wiel wat hy as spaar gebruik het in ruil gegee vir die wiel wat hy moes afhaal.

Kleinboet is nou weer tevrede want sy Cressida is weer soos hy uit die fabriek uit kom.

En die motorhandelaar se werknemer ? Ek dink hy is ‘n baie gelukkige man , want toe Kleinboet op Maandag oggend daar opdaag om die sakie met hom te ‘bespreek’ sou hy hoor die man werk nie meer daar nie.  Ek wonder of hy besef dat die wiel draai.  Ek hoop vir sy part die wiel draai baie stadig , want Kleinboet het baie opgehoopte frustrasies wat dalk eers effens moet afkoel voor hulle mekaar dalk eendag ontmoet.

Kindersielkunde en werks-sekerheid

Vriend Graham kla nou die dag vreeslik by my oor sy Tuiningeneur. Maar wag , kom dat ek net so ‘n  bietjie vir julle die agtergrond skets. Vriend Graham bly op ‘n plot net buite Bloemfontein.  Wag , wag,  voordat julle nou julle eie prentjies vorm moet ek eers keer.

Mens kry twee soorte mense wat op plotte buite die drop bly. Jy kry die ma-plotter tipe met die brandsiek beeste , die hoenders wat in die ou Valiant nes maak , en die klomp brakke wat jou onderste bo hardloop as jy naby kom. Ons almal ken van daai soort plot blyers. En dan kry jy die ander soort. Die mense wat op ‘kleinhoewes’ bly. Met spog tuine . En mooi motors. Groen gras en waterfonteintjies voor die voordeur. Ek is seker julle ken ook van daai soort ook. Vriend Graham is van laasgenoemde se groep.

Nou moet ek by sê , Vriend Graham is ‘n plat op die aarde ou.  Hy het ‘n werk wat hom besig hou van 8 tot 5. Hy het n mooi vrou wat haarself met syfertjies en Rande en sente bemoei soos wat net rekenmeesters kan doen. En in die aande en oor naweke probeer Vriend Graham en sy vroutjie om hulle tuintjie mooi te hou en die kleinding en die honde gelukkig te hou.

So kla Vriend Graham dan nou by my oor sy Tuiningeneur. Sien, Tuinigeneur kom elke Saterdag om die tuin te help mooi maak. Hy moet die akkertjies om spit en mooi walletjies maak. Hy moet die gras natmaak en sny. Hy moet die tipiese dinge doen waarvoor tuiningeneurs betaal word.  Die probleem is dat Tuiningeneur ongelukkig voel oor die feit dat die twee worshonde deur die week soveel skade aanrig aan al sy hande werk. Deur die week grou en krap hulle in die akkers , en oor naweke is dit Tuiningeneur se plig om die akkers weer mooi te maak. En dit grief hom vreeslik.

Vir weke al kerm hy by Vriend Graham om die akkers toe te span met ‘droppers’ en bind draad. En elke week weier Vriend Graham om bes te gee , want hy besef dat die droppers en bindraad sy tuintjie baie lelik daar gaan laat uitsien. Toe Vriend Graham verlede naweek gaan kamp sien Tuiningeneur sy kans en kap droppers in en span draad vir die vale. Uit die aard van die saak is Vriend Graham toe Maandag more sleg moerig toe hy by my  kla oor die naweek se verwikkelinge.

Nou is dit seker omdat my laaitjie al bietjie ouer is as Vriend Graham se spruit , dat ek die tuiningeneur kindersielkunde ding effens beter verstaan. My raad aan Vriend Graham was toe om vandag mooi met Tuiningeneur te praat en aan hom te verduidelik dat siende dit Tuiningeneur se hooftaak was om elke week die akkers mooi te maak en siende die honde nou nie meer in die akkers kan kom om skade aan te rig nie , hulle nou nie meer Tuiningeneur se dienste op ‘n weeklikse basis sal benodig nie. En dat Tuiningeneur dus van nou af net een maal ‘n maand hoef te kom werk om net die nodigste te kom doen.

Ek vermoed dat Tuiningeneur dalk na vandag ‘n beter idee sal hê van wat sy werks beskrywing is. Ek vermoed ook dat die droppers en binddraad na vanmiddag nie meer die honde se pret sal belemmer nie. En dat Vriend Graham se tuintjie weer sal lyk soos wat hy van hom hou.

Miskien is daar ‘n ou lessie te leer vir ons ook wat met ons voete in die besigheids wereld staan. Soms , net soms, beteken werks-sekerheid om elke dag maar die selfde ding te doen. Weer en weer.

Blog snobs en Roofkykery

Ek was tot onlangs ‘n blog snob. Een van daai outjies wat geglo het dat die internet net in Ingels werk. En dat blog nie werk in Afrikaans nie.  Ek het ‘n Ingelse blog wat ek al vir n hele paar jaar aan die gang hou. Sommer my eie kop se nonsens. ‘n Plek waar ek baie gereeld ook moan en bitch. In Ingels natuurlik. ‘n Blog waar die mense ook my regte naam ken. (nie altyd ‘n goeie idee nie hoor!).

Maar onlangs ontdek ek toe mos die blogs hier in blog land. in Afrikaans nogal. En daar verander ek toe in ‘n roofkyker. Ja kyk , dis mos eintlik die anner naam vir ‘n ginekoloog daai ! Roof kyker.  Maar dit daar gelaat , ek is nie n Ginekeloog nie. Anyway , heel van my storie af. Soos ek sê , daar verander ek toe nou in ‘n Roofkyker. En vir die laaste paar weke lees ek Afrikaanse blogs hier op Litnet. Soos n mot om ‘n kers vind ek myself elke kort kort op die net om te kom kyk of iemand nie weer iets gepos het nie. En as ek niks nuuts kry nie , dan gaan delf ek in die argiewe en ek lees die ou stories.

Ek lees vir Biker Dinge, en vir Tannemys en Sinterklaas. Ek lees vir Murphy. En vir Kerneelsie. So deur die blogs maak ek kennis met Jan Nel en met Ludwig. En ek kan net nie genoeg kry nie ! En hoe verder ek lees , hoe lusser kry ek om myself hier by die klomp aangename mense te kom aansluit. Om ook so nou en dan ‘n storetjie te kom deel met mense wat nou al amper vir my soos vriende geraak het.

Gaan ek elke dag kom blog ? Ek Twyfel . Maar ek sal so nou en dan as die storie of die lus my pak , hier kom inloer en kom deel wat ek op die hart het.

So – hier is ek dan nou ook op Litnet. Ek sien uit daarna om nog meer te lees ( en te lag) en te deel in almal se wel en wee. En hopelik, miskien , kan ek ook hier en daar n anner man se dag beter maak.

Groete vir eers , my bed roep sterk.

Adoonsie