Die bok het my gestamp

Kleinboet (hy mag dalk omgekrap wees as ek hom kleinboet noem, hy is ‘n groot, breed geskouerde man) het so ‘n klompie jare terug as ‘n veld gids gewerk daar by een van daai grend wildplase annerkant Pretoria. Mabula , as ek reg onthou. Om die eksterne kontrakteurs soos Eskom en Telkom se outjies veilig te hou tussen die wilde diere het die wildplaas ‘n standaard reel gehad dat kontrakteurs nooit alleen in die veld mag werk nie. Die idee was dat een man die werk doen , terwyl die anner man kywie hou vir diere wat hulle veiligheid mag benadeel.

So kom dit dat daar eendag ‘n man van Telkom ( ek dink dit was Telkom) daar by die kantoor aankom. Man , maar die knaap is gehawend. Stof en bloed en snot en stukkende plekke. En hy hakkel en bewe van die skok. Nadat hulle die man so effens kalmeer het probeer hulle agter die kap van die byl kom.  Omtrent al wat hulle uit die knaap kan uitkry is dat die bok hom gestamp het. Watse bok? Nee hy weet nie.  Uiteindelik kom hulle toe sover om te leer dat die knaap alleen veld toe is om aan een of ander toring of iets van sy instansie te gaan werk. Hy kon met die bakkie tot redelik naby aan die toring kom , maar moes vir die laaste entjie te voet gaan om sy werk te doen.

So kom dit toe dat meneer te aandagtig sy werk doen en nie oplet na die omgewing , en meer spesifiek, die diere om hom nie. Totdat hy van aangesig tot aangesig kom met ‘n bok wat hom summier aanval. En duidelik het die ‘bok’ hom ook sleg gekarnuffel voor hy dit tot by sy voertuig kon maak. Kleinboet hulle probeer allerhande truuks om by die man uit te vind watse ‘bok’ dit was wat hom aangeval het , maar hy weet nie. Uiteindelik dink meneer egter dat hy tog die ‘bok’ op ‘n foto sal kan identifiseer.

So gesê , so gemaak . Kleinboet hulle gaan haal ‘n boek en begin vir meneer bokke wys. Springbok, Rooibok , Blesbok, Kudu, almal van hulle. Geen van die bokke blyk skuldig te wees nie.  Dit is todat die knaap op ‘n stadium opkyk en die ‘bok’ raaksien op een van die muur panele van die Groot Vyf teen die muur.  Ek dink dit was die eerste keer in Kleinboet se lewe waar hy gehoor het dat ‘n Buffel as ‘n bok geklasifiseer is.

4 thoughts on “Die bok het my gestamp

  1. My Pa het al 3 die Adoons boeke. Hy is ongelukkig in Bloem en ek nie, maar ek gat so bietjie sy arm draai en kyk of ek nie boeke kan leen nie. Hy is vreeslik heilig op hulle. Sal maar sien.As ek eendag in die hande kry asl ek jou laat weet.

Kommentaar is gesluit.