Troues , tyd en kultuur skok

Die van julle wat my vorige blogs gelees het sal onthou dat ek genoem het dat ek ‘n fotografie besigheid gehad het. Basies het ek vir so 4 jaar lank as n voltydse professsionele fotograaf gewerk. En soos wat meeste sulke fotograwe maar doen , het ek ook baie troues gedoen.

Die besigheid het egter vir baie redes deur ‘n sleg tyd gegaan en op die ou end het ek myself weer bevind in die gewone wereld waar ek ook maar weer van 8 tot 5 vir ‘n baas werk. Dis nie ‘n fantastiese werk nie , maar dit hou my aan die lewe terwyl ek my egskeidings wonde lek en weer koers vir my lewe bepaal. Ek het my kameras weer net vir n stokperdjie begin gebruik en glad nie meer troues en so meer gedoen nie. Maar tog het ek my fotografie webblad op die net gelos.

En so gebeur dit toe dat ‘n baie vriendelikke jong swart dame my nou die dag bel en smeek om haar trou fotos te neem. Sy het my fotos op die net raak geloop en was heel beindruk daarmee. Maar die grootste rede hoekom sy my gesmeek het was omdat die fotograaf wat hulle geboek het kop uit getrek het 10 dae voor die troue.

Ek laat my toe ompraat om as fotograaf op te tree. Deels omdat ek hulle jammer gekry het, want waar gaan vind mens nou ‘n fotograaf in Desember maand 10 dae voor jy moet trou ? En deels omdat ek die geld nodig gehad het. Want ek werk as kontrakteur en ek verdien geen salaris vir die tyd wat ons toe is oor kersfees en nuwe jaar nie. Die trou geldjies sou baie handig inkom om die groot gat in my salaris op te vul einde Januarie.

Vandag was toe die groot dag , en net na 8 daag ek by die bruid se huis op om die aantrek en grimeering af te neem. Ek word ingenooi in die huis in waar ek die dametjie nog in haar japon aantref. Uit die kombuis kom die reuk van afval wat kook en ek vlug maar eerder uit buitentoe terwyl ek vir haar wag om klaar maak sodat ons kan fotos neem. (Die reuk van afval wat kook laat Adoonsie se maag op ‘n knop trek terwyl hy met groot spoed soek na ‘n plek om ‘n kat of ses te skiet). Ek wag toe maar geduldig buite , want gelukkig is daar nog baie tyd voor die trou seremonie wat om 10 uur sou plaasvind.

Nou ja , om ‘n baie lang storie (glo my dit was lank) kort te maak, moet ek sê dat die seremonie nie 10 uur begin het nie. Inteendeel , die predikant het sy eerste woorde van die kansel af gespreek om 12:31. Teen welke tyd ek nog geen kans gehad het om enige van die gewoonlike vooraf fotos te neem nie. Teen 14:25 is ons uiteindelik uit die kerk uit om die formele fotos te gaan neem.

Ek het solank vooruit gery na die gekose plek (en langs die pad gestop om gou ‘n worsrol te koop. Ek het nie kans gesien vir die afval wat hulle my so rondom 10:00 aangebied het vir brekfis nie). By die foto plek verwag ek toe die bruidspaar en die gevolg. Moenie glo nie. Die hele lot het van die kerk af die bruidskar gevolg. Dis net motors en Taxis en dit raas en toet. Ek was bang diemense van die omgewing gaan ons laat toesluit vir rusverstoring.   Uit die aard van die saak moet ALMAL op die fotos verskyn en dit neem ‘n goeie uur om die handvol groeps fotos te neem en die klomp mense onder my voete uit te kry sodat ek my tyd aan die bruidspaar kan spandeer.

Uiteindelik het ek so veel moontlik fotos so vinning moontlik geneem en teen 16:15 was ons terug by die onthaal saal vir die onthaal wat eintlik 12:30 moes begin het. Teen 17:00, ‘n uur later as wat ek kwoteer het, het ek geloop. Ek was dood moeg.

Ek dink nie ek sal weer ‘n swart troue doen nie. Nie maklik nie. In teendeel , ek is nie baie lus om ooit weer ‘n troue te doen nie.

Advertisements

‘n Paar familie fotos

Ek het die jaareind funksie oorleef. Ook maar net.

Gedog ek sal maar met julle’n paar fotos deel uit die Adoons familie se geskiedenis.

Alle eer aan Oubaas T.O Honniball vir sy meesterlike sketse van Adoons en sy trawante.  Ek het hierdie 3 fotos op die net opgespoor.

Ek het groot geword met drie boeke in die hius wat my pa veilig weg gebere het en wat ek net kon lees nadat ek baie mooi gevra het en seker gemaak het my hande is skoon.

Die drie boeke se name was : Adoons, Keesje Kaas en Kie,   Adoons boer vorentoe, en   Adoons dons op. Ure en ure se vermaak. Ek gaan oor kersfees weer huis toe en dit sal een van die dinge wees wat ek gaan doen vir die tyd , om weer daai drie boeke te gaan uitsoek en te lees.

Jaareind

Vanaand is ons werks jaareind funksie.

En ek is glad , maar glad nie lus nie. Ek drink nie. Ek rook nie. En ek gaan alleen.

Ek is nie lus vir ‘n klomp dronkgat rokende ouens en hul girlfriends nie.

Maar nou ja, ek moet seker maar gaan. As deel van die kantoor werkers en as die baas se regterhand sal hy my nooit vergewe as ek nie daar is nie.

Hoop maar ek kry n rede om vroegerig te loop.

lekker aand vir julle.

En vir die wat soos ek nog tot Vrydag toe werk. Vasbyt. min dae.

So ‘n ietsie oor myself

As ek moes begin met die storie , daar waar hy nou eintlik begin , dan gaan my ou vingertjies maar flou wees teen die einde van die blog. So kom ons begin maar met die dinge wat huidiglik voorop in my gemoed is.

Ek is in ’99 getroud met die liefde van my lewe. Ek was mal verlief.  En bitter baie lief vir die spesiale mesiekind. Soos met enige huwelik was daar maar stampe en stote maar nooit ooit het ons baklei of op mekaar geskree of lelik gewees nie.  Ons het so goed by mekaar gepas. Behalwe vir die een ou dingetjie. In die slaapkamer het dinge maar altyd effens moeilik gegaan. Eers het ek dit toegeskryf aan onkunde. Ons was altwee maagde met ons troue. Ek het boeke en websites verslind in ‘n poging om van myself ‘n goeie minnaar te maak.  Maar altyd het dinge maar gesukkel. Soms beter , soms slegter, maar nooit was seks die fantastiese God gewe gawe wat ek geglo het dit moet wees nie.

Sy het allerhande verskonings uitgedink en gebruik om seks te vermy. Ek is seker daar is manne wat sal verstaan as ek sê dat die vlak van verwerping wat ‘n man ervaar as hy keer op keer probeer toenadering soek en afgewys word ken geen gelyke nie.  Ek het moedig vasgebyt en hard probeer , maar stadig maar seker het dit my begin doodmaak. My self beeld was ‘n nul. Ek het nie meer in myself geglo nie. My fotografie besigheid het gevou omdat ek net nie meer die selfvertroue gehad het om aan te gaan nie. Vreemd hoe iets soos seks in ‘n mense se hele lewe ‘n rol speel ?

Na 10 jaar se getroude lewe , waarin ek haar nog altyd absoluut lief gehad het en nooit ooit verneuk het nie, het sy eindelik op ‘n dag in September met die waarheid vorendag gekom. Sy is gay. Skielik het soveel dinge vir my sin gemaak. Skielik het ek soveel dinge verstaan. En skielik kon ek terug kyk en besef hoe hard sy probeer het om ons huwelik te laat werk. En dit moet ek sê : Sy het bitter hard gewerk om dit te laat werk.  Maar eindelik was die druk om haarself en haar mens wees elke dag te misken te groot. Sy kon nie meer die druk vat nie. En ek ook nie. Dis hel om iemand so absoluut lief te hê en nie ‘n intieme verhouding te mag hê nie. (teen daardie tyd het ons meer as ‘n jaar laas seks gehad)

Ons het op die ou end besluit om te skei. Want ek kon haar nie lief hê soos wat sy nodig gehad het nie. En sy nie vir my nie. Al wou sy baie graag. En so op 29 Desember 2008 is ons geskei. Ek was saam met haar na haar nuwe tuiste toe om te gaan help uitpak en intrek . Sy en my seunskind (8jr) het in die kaap agtergebly en ek het terug gekom en die stukkies van my lewe kom probeer optel. Ek is nie kwaad vir haar nie. Ek verwyt haar nie. Ek wens haar net geluk en voorspoed toe. En as ek dieselfde paadjie weer moes loop , dan sal ek. Al was dit hoe seer.

En so bring hierdie hele lang relaas bring my by dit wat in hart is.

Ek gaan volgende week my laaitie sien (hy kuier by my ma hulle) en dan gaan ek saam met hom na my (ex)skoon ouers toe vir Kersdag. Ek sien uit daarna om my laaitie te sien. En vir die van julle wat gelowig is vra ek , bid vir my. Want ek gaan met skoonma moet gaan gesels oor haar dogter wat gay is. En haar moet probeer help en lei om dit te verwerk en aanvaar. Want skoonma is kwaad en verbitterd en seergemaak. En skoonpa op sy stil manier ook.

En wie weet? Miskien, eendag, ontmoet ek weer ‘n spesiale meisiekind om lief te hê. 

Ai… ek hoop so .

#%^&*(# Binnelanders

Vanoggend het my moermetertjie behoorlik in die rooi gespring. Oor iets wat seker glad nie so erg was nie.  Daar sit ek na kerk by Whipme se winkel in Uitenhage behaaglik aan ‘n koffietjie en suig terwyl die reen in sulke vlae oor die parkeer terein neer stuif toe ‘n gesin vakansie gangers by die deur uitloop en ek hoor hoe die een man vir die ander klomp se:” Ag ek hoop nie dit gaan heel vakansie reen nie !”

Ek moes mooit byt om nie hier van my tafel af kommentaar te lewer nie. Want anders as genoemde binnelander bly ek hier. En ons wat hier bly bid kliphard vir reen, want dis donners baie droog hier. En ons wens dit wil heel vakansie reen.  Ek kan nie wag dat die vakansie verby is sodat ons weer kan strand toe gaan sonder om in verkeersknope te moet sit nie.

Ok. Jammer julle , ek is sommer net in ‘n crappy bui. Hoop nie al die binnelanders wil my nou summier stenig nie. Ek was ook een op ‘n stadium.

Jan Nel , ek ry volgende Sondag (20ste) daar by jou plek verby op pad Bloem toe. Want ek vlug nou maar eers binneland toe. Gaan vir my ouers in Bloem kuier. En dan saam met my laaitjie (wat ek in Mei laas gesien het) na my ex-vrou se ouers toe vir Kersdag in Sasolburg. Dan kom ek weer so die 27ste terug na my plekkie toe.

Melankolie

Vrydag aand het ek by die Sacremento Restaurant in Schoenmakerskop gaan koffie drink. Sekerlik vir die laaste keer hierdie jaar. Want ek hou nie van baie mense nie en met die kers seisoen op pad vermy ek die see en die plekke waar baie mense saamdrom. So ek sal maar rustig wag dat al die Vrystaters en Gautengers weer vroeg in volgende jaar hulle goedjies op pak en boggeroff , en dan sal ek weer my geliefde plekke langs die see gaan opsoek.

Soos dit is kon ek nie eers my koffie rustig en in vrede geniet nie , want die restaurant het om 18:30 gesluit vir n privaat funksie. Ek het toe maar met my kamera gaan sit en wag vir wat ek gehoop het ‘n mooi sonsondergang sou wees.  Die baie wolke het my so effens gekortwiek.

Gister moes ek werk , en vandag sit ek in die huis en voel sommer net jammer vir myself. Die wind waai en dis bewolk, maar dit sal ook nie kom reen nie. Ek is nou vir amper ‘n jaar geskei na ek vir 10 jaar gelukkig getroud was ( ja ek weet , dit maak nie sin nie. Sy het na 10 jaar se huwelik eindelik uit die kas uitgekom) en veral op Sondae dan vang die verlang my. So eintlik is Sondae maar redelik ‘crappy’ vir my , maar ek wil ook nie hê Maandag moet aanbreek nie want dan is die naweek verby.

So.. Nou sit ek maar hier en ek hoop dat dinge wel eendag weer anders sal lyk. Dat daar erens in die wereld ‘n maatjie is vir my wat ek saam mee kan oud word. Ek is 33 en met die Vader se genade hoop ek dis darem nog ‘n rukkie voor ek oud of dood is. Soms wonner ek hoekom die lewe so bleddie moeilik is en so bleddie seer kan maak. Maar ek kom agter dat ek begin heel word. Want die wonder-dae word al hoe minder en die hoopvol-dae word stadig meer.

Wie weet wat wag omdie volgende draai……