Nog ‘n buffel storie

Hallo my blogland vriende. Vergewe my dat ek so skaars is. Tyd is min , werk is baie en my gat sleep. Ek kan ook nie van die werk af blog nie en ek het die laaste rukkie gely aan ‘internetloosheid’ by die huis. Diè ou probleempie is darem nou vir eers weer opgelos. Ek lees so skelm julle blogs by die werk , en ek kan so nou en dan kommentaar lewer , maar vir ordentlik sit en skryf is daar beswaarlik tyd.

Maar in elk geval. Nou die dag se storie laat my dink aan nog ‘n storie waar kleinboet en ‘n buffel ‘n rol speel. Die ding werk so :

Kleinboet het intussen verhuis en woon en werk nou vir Shamwari ( daai ongelooflike duur 5ster wildsplaas hier anderkant Port Elizabeth.) So kom dit dat Kleinboet as deel van sy pligte een dag moet help om ‘n buffel te verdoof. Die hele verdowing word haarfyn beplan met viertrek voertuie en helikopters. Die buffel word agtervolg en toe die slim manne reken die saak is reg ,  word die veearts in die helikopter ingeroep om die buffel met een van daardie fensie gewere wat die pyltjies skiet te kom verdoof.

Die veearts is ‘n man wat die ding al baie kere gedoen het en een twee drie , toe klap die skoot en die pienk pyltjie sit agter op die buffel se boud. Nou is dit die manne op die grond se werk om die buffel te volg tot daar waar die slaap dan nou die knaap oorval.

Buffel se kind trek weg en hy hardloop. Jy kan hom seker ook nie kwalik neem nie . Sy boud brand, en daar is mense en vlieënde goeters wat om hom raas. Buffel kies koers rivier toe en boetie hulle begin bekommerd raak, want as hy moet aan die slaap raak terwyl hy in die rivier is , gaan hy versuip. En dit wil hulle nie hê nie. Want buffels is GROOT geld. 

Soos die ongeluk dit ook wil hê hardloop buffel se kind reg in die rivier in , en daar begin hy spartel om aan die oorkant uit kom. Kleinboet besef dat daar nou net een plan is en dit is om buffel se kop bo die water te hou sodat hy nie verdrink as die slaap hom oorval nie. En so spring kleinboet agter die buffel in die rivier in. Hy swem die buffel van agter af in en kom op sy skof te sit waar hy die buffel aan die horings beet kry om sy kop bo water te hou.

Die buffel spartel en snork en baklei vir al wat hy werd is , maar kleinboet klou, want hy kan nou maar net nie sien dat die mooi (en baie duur) buffel nou so tot sy einde moet kom nie.

Erens moes Kleinboet onraad vermoed het want die buffel neem darem vreeslik lank om aan die slaap te raak. En hy sit ‘n groot baklei op vir ‘n buffel wat aanstoots moet slaap. Met die dinge in gedagte besluit Kleinboet om net die verdowings pyltjie mooi te bekyk om seker te maak dat hy nog daar is en sy verdowingsmiddel vrygstel het.

En dit is toe nou daar , op die buffel se rug , met buffel se horings in sy hande , al spartelend in die rivier dat Kleinboet besef dat die pyltjie nooit sy slaapmiddel vrygestel het nie en dat hy , wat Kleinboet is, agter op ‘n baie omgekrapte en baie wakker buffel se rug sit.

Kleinboet sê dat hy nog nooit so vinnig van iets afgespring en weg geswem het as van daardie buffel af nie. Hy reken ook dat ‘n man se lyf vreeslik vol blou kolle en pyne is na so ‘n onderonsie met een van Afrika se groot vyf.

6 thoughts on “Nog ‘n buffel storie

  1. Ai Adoons Hoe mis ek Adoons in die Landbou Weekblad Ek so bly ek’n Adoonsie (dit beteken vrou) ek weggehardloop lank voor die tyd…. NET VROU!!! Baie geniet dankie!!

  2. Adoons, dis ‘n sonderlinge verhaal om op ‘n nugter buffel in die water te ry, maar ek haal my hoed af vir boet. Ek ken ook ‘n Brahman boer wat Indobrazil beeste ingesmokkel het en by die SWA kus hulle laat swem het land toe. Meksikane het hulle in die water gestuur deur aan die sterte te hang en te trek. Aan land is hulle op ‘n vragmotor gelaai en Witbank toe geneem.

  3. Adoonsie = vrou ??!!! Yikes!!!Ek sal maar sê dat my naam die verkleinwoord vir Adoons is. Eintlik was die blog naam ‘Adoons’ klaar gevat , toe maak ek maar doen met die verkleining.

Comments are closed.