So ‘n ietsie oor myself

As ek moes begin met die storie , daar waar hy nou eintlik begin , dan gaan my ou vingertjies maar flou wees teen die einde van die blog. So kom ons begin maar met die dinge wat huidiglik voorop in my gemoed is.

Ek is in ’99 getroud met die liefde van my lewe. Ek was mal verlief.  En bitter baie lief vir die spesiale mesiekind. Soos met enige huwelik was daar maar stampe en stote maar nooit ooit het ons baklei of op mekaar geskree of lelik gewees nie.  Ons het so goed by mekaar gepas. Behalwe vir die een ou dingetjie. In die slaapkamer het dinge maar altyd effens moeilik gegaan. Eers het ek dit toegeskryf aan onkunde. Ons was altwee maagde met ons troue. Ek het boeke en websites verslind in ‘n poging om van myself ‘n goeie minnaar te maak.  Maar altyd het dinge maar gesukkel. Soms beter , soms slegter, maar nooit was seks die fantastiese God gewe gawe wat ek geglo het dit moet wees nie.

Sy het allerhande verskonings uitgedink en gebruik om seks te vermy. Ek is seker daar is manne wat sal verstaan as ek sê dat die vlak van verwerping wat ‘n man ervaar as hy keer op keer probeer toenadering soek en afgewys word ken geen gelyke nie.  Ek het moedig vasgebyt en hard probeer , maar stadig maar seker het dit my begin doodmaak. My self beeld was ‘n nul. Ek het nie meer in myself geglo nie. My fotografie besigheid het gevou omdat ek net nie meer die selfvertroue gehad het om aan te gaan nie. Vreemd hoe iets soos seks in ‘n mense se hele lewe ‘n rol speel ?

Na 10 jaar se getroude lewe , waarin ek haar nog altyd absoluut lief gehad het en nooit ooit verneuk het nie, het sy eindelik op ‘n dag in September met die waarheid vorendag gekom. Sy is gay. Skielik het soveel dinge vir my sin gemaak. Skielik het ek soveel dinge verstaan. En skielik kon ek terug kyk en besef hoe hard sy probeer het om ons huwelik te laat werk. En dit moet ek sê : Sy het bitter hard gewerk om dit te laat werk.  Maar eindelik was die druk om haarself en haar mens wees elke dag te misken te groot. Sy kon nie meer die druk vat nie. En ek ook nie. Dis hel om iemand so absoluut lief te hê en nie ‘n intieme verhouding te mag hê nie. (teen daardie tyd het ons meer as ‘n jaar laas seks gehad)

Ons het op die ou end besluit om te skei. Want ek kon haar nie lief hê soos wat sy nodig gehad het nie. En sy nie vir my nie. Al wou sy baie graag. En so op 29 Desember 2008 is ons geskei. Ek was saam met haar na haar nuwe tuiste toe om te gaan help uitpak en intrek . Sy en my seunskind (8jr) het in die kaap agtergebly en ek het terug gekom en die stukkies van my lewe kom probeer optel. Ek is nie kwaad vir haar nie. Ek verwyt haar nie. Ek wens haar net geluk en voorspoed toe. En as ek dieselfde paadjie weer moes loop , dan sal ek. Al was dit hoe seer.

En so bring hierdie hele lang relaas bring my by dit wat in hart is.

Ek gaan volgende week my laaitie sien (hy kuier by my ma hulle) en dan gaan ek saam met hom na my (ex)skoon ouers toe vir Kersdag. Ek sien uit daarna om my laaitie te sien. En vir die van julle wat gelowig is vra ek , bid vir my. Want ek gaan met skoonma moet gaan gesels oor haar dogter wat gay is. En haar moet probeer help en lei om dit te verwerk en aanvaar. Want skoonma is kwaad en verbitterd en seergemaak. En skoonpa op sy stil manier ook.

En wie weet? Miskien, eendag, ontmoet ek weer ‘n spesiale meisiekind om lief te hê. 

Ai… ek hoop so .

14 thoughts on “So ‘n ietsie oor myself

  1. Doonsie,ek haal my hoed af vir jou.Jy is deur soveel maar steeds praat jy met respek oor jou ex.Sterkte vir die gesprek met jou skoonmense.

  2. Dankie ModderkoekieOns praat nog gereeld. Ek respekteer haar en ek besef dat om haar die vryheid te kon gee om haar self te wees op die ou end die bewys van my liefde vir haar is. Op ‘n romantiese vlak sal daar nooit weer iets tussen ons wees nie , maar sy bly die ma van my kind en sy is ‘n baie spesiale en pragtige mens. Hoekom dit ontken en die mooi wat sy is sleg maak ?Dankie dat jy gelees en kommentaar gelewer het.

  3. Jy het dit met soveel deernis gedeel-baie dankie! Baie sterkte met jou skoonmense en mag jy weer iemand kry wat jou van jou kroontjie tot jou toontjie sal liefhê en waardeer!

  4. Ek hoop jy is sterk genoeg en genoeg lief vir jouself om jou selfbeeld te polish sodat wanneer jy die “misses right” kry dat jy nie met bagasie sit en dan die regte een die hasepad laat vat nie.Die regte een gaan kom .Sterkte en doen die toekomstige besluite vir die regte redes.

  5. Ai Adoons, ek vang nou eers op met die blogs. Was see toe. Jou storie is wragtig hartseerder as myne!! My ex was ‘n koue man, maar het nie eers die verskoning van gay wees nie, net van drank. Maar vandag is ek so moerig vir hom – sien my Blue Monday-blog- dat ek (anders as my normale aard) regtig begin wonder oor mans. En ek weet dis unfair. Want daar is goeies, ek weet. So, moenie jy ook nou sinies en bitter raak nie. Strongs! Mag ons Pa in die Hemel vir jou weer ‘n wyfiebobbejaan stuur vir die oudag. Op Sy tyd. (Ek gaan egter ‘n oujongnooi word. As mens iets soos ‘n geskeide oujongnooi kry…) Sterkte met die skoonmense, en geniet jou laaitie! My twee se pa bly 3 minute van ons af, en het selde tyd vir hulle. Altyd goed om van pa’s te hoor wat mal is oor hulle kids.

  6. Dankie vir die deel. Dit help altyd om iemand beter te verstaan. Maar dit was beslis nie maklik vir jou nie!!! Baie baie sterkte. Ek wens vir jou net die beste toe.

Comments are closed.