Die VW rally

Ja nee , glo dit of julle wil of nie , maar ek leef nog. My werk beskrywing het aan die begin van die maand verander en skielik kry ek geen meer kans om op die net te kom nie. Ek sal maar van nou af moet plan maak om so nou en dan in die aande hier by julle in te loer.

In elk geval. As daar nou een ding is wat my ou hartjie tog vinniger laat klop dan is dit nou die gedagte aan motor tydrenne. Ek is absoluut gek daarna om fotos te neem van die gebeure.  As ek ‘n lewe kon maak deur elke naweek met n kamera in die hand tydrenne af te neem sou ek dit in ‘n oogwink gedoen het. Maar heelaas…

Hier is so ‘n paar van die pics wat ek geneem het tussen gister en vandag :

Advertisements

Frits – die Pappegaai

Julle moet tog nou net kom help en keer as ek klaar die storie vertel het en Pappeslaai wil my dan kom boks. Ek is onskuldig. Ek het niks met die pappegaai gemaak nie – dit was sy eie keuses en toedoen – ek belowe !

In elk geval – kom ek begin daar waar elke storie seker moet begin : By die begin.

Toe ek ‘n matriek laaitie was en nog in my ouers se huis gebly het, het my pa ‘n Indiese ringnek gehad. So ‘n groene. Vreeslike mooi pappegaai en hans-mak. Hy het altyd op my pa se skouer gesit en orals gegaan waar my pa gegaan het. Frits het ‘n bynaam gehad. Sy bynaam ,’Miaauw’, was afgelei van die geluide wat hy gemaak het as Pa in die aande van die werk afgekom het.  As Pa in die aande die motorhuis oopgesluit het, het hy altyd gesê:”Hallo Miaauw’.  En dan het Frits sulke lang uitgerekte miaaauw gekuide gemaak. Ons weet nie waar hy dit geleer het nie , maar dis iets wat hy van klein voëltjie dae af gedoen het.

In elk geval, so sny my pa een Saterdag die gras. En ons huis het baie gras gehad. En Pa moes kan sny omdat hy gereeld K.A.N gegooi het.  Pa het gras gesny met so ‘n groot Ransom rol lem masjien soos wat die munispaliteit die ‘bowling greens’ mee gesny het. Die gras snyery is harde werk en na ‘n lang oggend se sny gaan haal Pa vir Frits en met Frits op sy skouer gaan sit hy in  die sitkamer om n yskoue biertjie te drink.

Frits het geglo hy is ‘n mens en geregtig op al die dinge wat mense op geregtig is. Daarom as Pa iets gedrink het  het Frits geglo hy mag ook en niemand sou hom anders oortuig nie. Met die blik bier was dit ook nie anders nie. Hy was baie vinnig om sy bek binne in daai bierblik in te kry en sommer gou gou het hy ‘n hele klomp groot slukke gevat.

Frits was ‘n baie sindelike voël en het nooit op my pa se skouer ge’tjap’ nie.  Met die dat Frits toe van Pa se skouer afvlieg om sy ding op die grond te gaan doen sien ons dat iets nie lekker pluis is. Frits blyk toe nie so heeltemal vas van vlerk te wees soos gewoonlik nie en sy landing op die teelvloer was dan ook ‘n volle 5 punt landing.  2 voete , 2 vlerke en snawel.

Die van julle wat al pappegaaie , en veral ringnekke, dopghou het sal weet dat hulle ‘n baie kenmerkende ‘doelgerigte’ stappie het. Maar die keer was Frits ook nie so ‘doelgerig ‘ soos gewoonlik nie, en het hy maar baie waggel waggel oor die vloer gesukkel.

Ons besef toe dat die arme Frits sleg hoenderkop is en vir sy eie veiligheid gaan plaas my pa hom toe maar terug in sy hok. Daar het Frits baie hard probeer om op sy stok te bly , maar elke nou en dan afgevoeter as sy balans hom in die steek gelaat het. Uiteindelik het ons vir Frits gekry waar hy in sy kosbak gesit het.  Ten minste kon hy nie uit die kosbak val nie.

Die volgende dag was Frits , om dit liggies te stel, dik bemoerd. Hy het met almal baklei , na almal gebyt en almal gerdeig met daai ‘peepsight’ ogies as ons anby gekom het. Ons kon maar net aflei dat die arme Frits sleg babelaas gehad het.

Wat Frits egter op ‘n ander vlak plaas as baie mense wat ek ken is dat hy uit sy foute geleer het. Van daardie dag af het hy met mag en mening gedreig en baklei as iemand ‘n bierblik naby hom gebring het.  Tot sy dood het Frits nooit weer sy mond aan bier gesit nie.