Nog Kransvalkies

Die valkies word net elke dag groter en mooier. Vir die wat belangstel om fotos te sien , gaan loer gerus op my se anner blog.

Mag julle ‘n lekker aand hê.

Advertisements

Kransvalkies 4

Nou ja, ek is bly om te rapporteer dat dit baie goed gaan met die twee valkies.  Hulle word by die dag groter. Ek was vanmiddag na werk gou daar aan en het so ‘n paar fotos geneem. Hier is ‘n paar :

Makjan kruip vir my om die hoek weg.

Ek sal maar liewer nie sê waar ek opgeklouter het vir die foto nie

Bangjan sit nog steeds op sy normale plek

Aandete , njams!

Ek wonder of ma sout op my aandete gegooi het ?

Soms moet 'n man hard beur om jou aandete te kan afbyt

Kransvalkies 3

Julle, ek was bevoorreg om sedert Woensdag ten minste een maal per dag by die valkies te gaan inloer. Dit is ongelooflik hoe vinnig hulle groei. Hulle is vreeslik ougat en het baie beslis ook hulle eie persoonlikhede. Die outjie wat uit die nes uit gevoeter het (kom ons noem hom Makjan) is baie rustig oor my en my teenwoordigheid. Die ander knapie (Kom ek noem hom Bangjan)  , wat ook intussen van sy stelasie afgeduiwel het na ‘n laer vlak toe, is baie meer sku vir my en nie naastenby so op sy gemak met my nie. Ek het sedert Donderdagaand elke keer nog net die ma gesien as dit rondom slaap tyd is en ek was bekommerd dat die pa dalk iets oorgekom het. Gelukkig kan ek sê dat ek vandag beide vir Pa en Ma gesien het as hulle kos aandra vir die kleingoed en dat dit baie goed gaan met die kleinspan. Ek vermoed dat vlieglesse gaan begin in nie veel meer as ‘n week van nou af nie.

Hier is nog so ‘n klompie fotos:

Kransvalkies ..2

Ok , hier is nog so ‘n paar fotos van die valkies. Dis moeilik om te glo hoe vinnig hulle grootword.

Die knapie wat uit die nes geval het met die oorblyfsels van 'n vink vir aandete

'n foto van Ma .Hoog bo op die hyskraan se spoor.

Die Lewe kan ook maar erg verveelig wees as 'n man alleen is omdat jy uit die nes geval het.

Ma bo op die dak balke , met die ondergaande son se lig deur die vensters agter haar.

Kransvalkies

Terwyl ek nou die ander dag by een van ons fabrieksaanlegte instap vlieg daar twee Kransvalkies bo oor my kop by die groot oprol deur uit. Na ‘n hengse gesmeek en soebat en baie emails na ons sekureteits afdeling kry ek toe uit eindelik toestemming om my kamera te mag inneem en hulle te gaan afneem.

Om die ouers af te neem is nog redelik moelik , maar ek het hulle nes gekry met een kuiken binne in die nes en die ander klein poephol buite op die grond waar hy uit die nes uit geduiwel het. Gelukkig vir hom bring sy Pa en Ma nog steeds vir hom ook kos. Hier is so ‘n paar fotos :

Hier sit Pa of Ma en hou my bewegings fyn dop

 

Hierdie knapie sit in die nes. Pa het nou net vir hom 'n akkedis gebring. Daar steek nog 'n stukkie van die akkedis se stert by sy bek uit.

 

 

En die knapie sit op die vloer nadat hy uit die nes uit gevoeter het.

 

Lou warm water, Engelse sout en Jabulani Africa

So dan en wan skryf van die ou manne hier op die blogs en vertel van hulle army dae. En dan voel ek altyd so effens jaloers omdat ek nooit deel gehad het aan so iets nie. Ek was in die eerste groep matrieks wat nie meer opgeroep was vir diensplig nie. Ek is altyd so ‘n bietjie jaloers oor die stories wat die manne kan vertel van hulle army dae.  Ek was ook nooit in ‘n koshuis nie, so ek kan ook nie uit daardie bron van ervaring put nie.

Die naaste wat ek daaraan kan kom is die jaar na matriek wat ek spandeer het in die Diensjaar vir Christus Bybelskool in Wellington. En daar , glo dit as julle wil, het ook onheilighede uitgebroei. Een storie waaraan ek kan dink is van Goggo en die engelse sout.

Nou om die storie tot sy reg te laat kom moet ek eers vir julle die uitleg van die bybelskool beskryf. Die bybelskool was ‘n ou skool gebou wat oorgeneem is en omskep is, so hier en daar, om dit vir ons moontlik te maak om daar te bly. Die ou skool was in so ‘n U form gebou en het n grondvloer en nog een verdieping gehad. Ons het op die boonste vlak gebly, meisies aan die een kant en seuns aan die anderkant in die ou klaskamers.

Op die grondvloer het ons die klaskamers gebruik as … klaskamers. Die plek het nie toilette gehad nie en om by die geriewe uit te kom moes n mens deur ‘n houthek loop wat gelei het na ‘n stel buite toilette. Diè was omskep in 3 storte en dan 4 toilette. Die toilet ‘kompleks’ het ‘n staal hek voor gehad wat kon toesluit , maar dit was nog steeds moontlik om bo oor te klim as die nood regtig gedruk het. Dit dan die opset.

Op ‘n dag kom ek agter dat daar ‘n ding aan die gang is in die kamer langsaan ons s’n.  Na so ‘n klein bietjie speurwerk sal ek toe uitvind dat die Joe en Kie (wat in die kamer langs ons was) vir Goggo gedare het om ‘n 500ml coke bottel gevul met lou warm water en engelse sout uit te drink in onder 30 secondes. Die probleem was dat Goggo onder die indruk was dat dit net normale sout was. Sien Goggo (so genoem omdat hy vir almal Yebo Goggo gesê het, dit was net nadat Vodacom met daardie advertensie veldtog van hulle begin het) was effens naief. In teendeel , hy was baie naief. En Goggo was altyd platsak. Om die bottel vol (engelse) sout water uit te drink sou hom ‘n volle R10 in die sak gebring het. Goggo het daai bottel gesluk in onder 30 sekondes. Joe hulle het natuurlik hulle ding mooi beplan dat al die goed gebeur het net voor ons bybelkunde klas saam met Ds. Riaan moes begin.

Ds. Riaan het die manier gehad om ons altyd eers ‘n paar liedjies te laat sing voor hy sy klas begin. En Goggo het die manier gehad om altyd lekker te dans as ons die liedjies sing. Veral as ons liedjies gesing het soos “Jabulani Africa”.  Uit die aard van die saak vra Joe hulle toe ook nou vir al die lekker dans liedjies. En Goggo dans vir die eerste span, met Joe hulle wat hom aanmoedig tot hoër hoogtes. Met die gaan sit slag storm almal, wat weet van Joe hulle se plan, vir sitplekke agter Goggo sodat hulle verrigtinge nou goed kan dophou.

Hulle was ook nie teleurgesteld nie, want so 15 minute in Riaan se lesing in sien ons hoe Goggo baie regop begin sit. En rondskuif op sy stoel so van een boud na ‘n ander. Na so 3 of vier minute se rondskuif en kriewel kan Goggo dit nie meer hou nie en hy vlie op en uit by die deur. Riaan se mond hang oop toe die res van die manne oomblikke later ook opvlieg en agter Goggo aanhardloop.

Goggo mors nie nog tyd met toestemming vra om die kamer te verlaat nie en hy is uit by die deur en met ‘n spoed op pad na die hout hekkie toe. Wat wonderbaarlik, vir die eerste keer in 4 maande,  gesluit is. Dit sou enige Rugby afrigter se hard goed gedoen het om te sien hoe Goggo net eenvoudig die hekkie met hout kosyn en al uit die muur uithardloop.

So kom Goggo met ‘n allemintige spoed by die toilette aan. Ek wonder of hy in sy oomblik van nood gewonder het hoekom die noodlot dan op die dag so teen hom was. Want , kan jy glo, die toilette se staal hek is ook gesluit.  Goggo laat hom egter nie van stryk bring nie en verander sy horisontale spoed , met ‘n 90 grade hoek, na vertikale spoed en vlieg oor daardie staal hek asof hy ‘n blou aap is.

Ons manne wat hom gevolg het kon hom dit nie nadoen nie en moes maar luister hoe die toilette se hout  deure klap soos hy hulle een vir een oop stamp en dan sien dat daar vreemd genoeg nie toiletpapier is nie.  Tot sy verligting het die laaste toilet darem wel ‘n rolletjie papier gehad en dit het hom net ‘n fraksie van ‘n sekonde gekos om sy broek af te pluk en ‘n gat in die kleefplastiek te slaan wat oor die sitplek gespan was voor dat hy die kringspiere kon verslap en probeer om sy asemhaling weer normaal te kry.