Ek wou ook maar net vriendelik wees


(c) Adoonsie

So twee jaar na matriek gaan kuier ek by my vriend Gert op die plaas. Ek werk op daardie stadium vir die kerk as ‘n jeugpastoor en Gert swot B.Agric. Gert se pa het ‘n plaas gehad daar nady Hertzogville wat ek vermoed Gert in die tussentyd nou op boer.

So kom dit die aand dat Gert nog so ‘n bietjie moet swot vir ‘n vak wat hy die Maandag skryf en ek is verveeld. Ek besluit toe om so ‘n entjie buite in die veld te gaan stap. Toe ek buite kom besef ek dit is stik donker. Vir ‘n stadsjapie soos ek was dit vreemd om met so ‘n absolute donkerte te doen te kry. Ek kon regtig nie my hand voor my oë sien nie.

Maar nou ja – ek het gesê ek gaan stap en ek is nou buite so ek besluit toe om maar net so met die grondpad aan te loop.

Terwyl ek loop hoor ek ‘n vreemde geluid wat my n rukkie neem om te plaas. Uiteindelik besef ek dat die geluid wat ek hoor die suising van ‘n 28dikwiel se bande op die grondpad is. Ek besef toe dat dit een van die strooisbewoners is wat op sy baaisiekel in die grondpad op pad is terug huis toe.

Nou besef ek dat as ek nie die man kan sien nie hy my beslis ook nie in die pad gaan sien staan nie in die stik donkerte nie. Dus staan ek toe maar so net net van die pad af op die skouer en luister hoe man al hoe nader kom.

Terwyl ek nou so staan dink ek by myself hoe wonderlik die man se oë moet wees om in die donkerte te kan sien waar hy moet ry. Die gedagte laat my toe nou ook dink dat dit sou beteken dat selfs as ek hom nie kan sien nie , hy my sekerlik dan sal raaksien.

My ma het haar bes gedoen om haar spruite ordentlik en met goeie maniere groot te maak en met ma se opvoeding in gedagte besluit ek toe om darem die man ten minste vriendelik te groet as hy nou by my verby kom. Dis nou vir ingeval hy my kan sien. Ek wou nie hê hy moes dink ek is ongeskik nie. En toe die geluid van sy wiele dit vir my duidelik maak dat hy nou omtrent hier langs my moet wees waar ek net so langs die pad staan, toe groet ek hom  ook met ‘n: “Goeie Naand.”

Die geluide wat gevolg het was my enigste hulp om die volgende paar sekondes se gebeure te probeer ontsyfer.

In ‘n redelikke kort tydsbestek het ek gehoor hoe die man ‘n baie benoude ‘Hau !!’ uiter, gevolg deur die klank van ‘n fiets wat op die gronpad neer kletter soos hy skoon bo-oor die handvatsels spring en die voetval van iemand wat hardloop asof sy lewe daarvan afhang wat al dowwer word in die stof pad.

Die volgende more het ek en Gert die ou dikwiel in die stofpad gekry daar waar hy gelos is.

Tot vandag toe wonder ek wat deur die arme man se gedagtes geflits het toe ‘n vreemde stem hier langs hom in die donker met hom gepraat het.

5 thoughts on “Ek wou ook maar net vriendelik wees

Comments are closed.