Lou warm water, Engelse sout en Jabulani Africa

So dan en wan skryf van die ou manne hier op die blogs en vertel van hulle army dae. En dan voel ek altyd so effens jaloers omdat ek nooit deel gehad het aan so iets nie. Ek was in die eerste groep matrieks wat nie meer opgeroep was vir diensplig nie. Ek is altyd so ‘n bietjie jaloers oor die stories wat die manne kan vertel van hulle army dae.  Ek was ook nooit in ‘n koshuis nie, so ek kan ook nie uit daardie bron van ervaring put nie.

Die naaste wat ek daaraan kan kom is die jaar na matriek wat ek spandeer het in die Diensjaar vir Christus Bybelskool in Wellington. En daar , glo dit as julle wil, het ook onheilighede uitgebroei. Een storie waaraan ek kan dink is van Goggo en die engelse sout.

Nou om die storie tot sy reg te laat kom moet ek eers vir julle die uitleg van die bybelskool beskryf. Die bybelskool was ‘n ou skool gebou wat oorgeneem is en omskep is, so hier en daar, om dit vir ons moontlik te maak om daar te bly. Die ou skool was in so ‘n U form gebou en het n grondvloer en nog een verdieping gehad. Ons het op die boonste vlak gebly, meisies aan die een kant en seuns aan die anderkant in die ou klaskamers.

Op die grondvloer het ons die klaskamers gebruik as … klaskamers. Die plek het nie toilette gehad nie en om by die geriewe uit te kom moes n mens deur ‘n houthek loop wat gelei het na ‘n stel buite toilette. Diè was omskep in 3 storte en dan 4 toilette. Die toilet ‘kompleks’ het ‘n staal hek voor gehad wat kon toesluit , maar dit was nog steeds moontlik om bo oor te klim as die nood regtig gedruk het. Dit dan die opset.

Op ‘n dag kom ek agter dat daar ‘n ding aan die gang is in die kamer langsaan ons s’n.  Na so ‘n klein bietjie speurwerk sal ek toe uitvind dat die Joe en Kie (wat in die kamer langs ons was) vir Goggo gedare het om ‘n 500ml coke bottel gevul met lou warm water en engelse sout uit te drink in onder 30 secondes. Die probleem was dat Goggo onder die indruk was dat dit net normale sout was. Sien Goggo (so genoem omdat hy vir almal Yebo Goggo gesê het, dit was net nadat Vodacom met daardie advertensie veldtog van hulle begin het) was effens naief. In teendeel , hy was baie naief. En Goggo was altyd platsak. Om die bottel vol (engelse) sout water uit te drink sou hom ‘n volle R10 in die sak gebring het. Goggo het daai bottel gesluk in onder 30 sekondes. Joe hulle het natuurlik hulle ding mooi beplan dat al die goed gebeur het net voor ons bybelkunde klas saam met Ds. Riaan moes begin.

Ds. Riaan het die manier gehad om ons altyd eers ‘n paar liedjies te laat sing voor hy sy klas begin. En Goggo het die manier gehad om altyd lekker te dans as ons die liedjies sing. Veral as ons liedjies gesing het soos “Jabulani Africa”.  Uit die aard van die saak vra Joe hulle toe ook nou vir al die lekker dans liedjies. En Goggo dans vir die eerste span, met Joe hulle wat hom aanmoedig tot hoër hoogtes. Met die gaan sit slag storm almal, wat weet van Joe hulle se plan, vir sitplekke agter Goggo sodat hulle verrigtinge nou goed kan dophou.

Hulle was ook nie teleurgesteld nie, want so 15 minute in Riaan se lesing in sien ons hoe Goggo baie regop begin sit. En rondskuif op sy stoel so van een boud na ‘n ander. Na so 3 of vier minute se rondskuif en kriewel kan Goggo dit nie meer hou nie en hy vlie op en uit by die deur. Riaan se mond hang oop toe die res van die manne oomblikke later ook opvlieg en agter Goggo aanhardloop.

Goggo mors nie nog tyd met toestemming vra om die kamer te verlaat nie en hy is uit by die deur en met ‘n spoed op pad na die hout hekkie toe. Wat wonderbaarlik, vir die eerste keer in 4 maande,  gesluit is. Dit sou enige Rugby afrigter se hard goed gedoen het om te sien hoe Goggo net eenvoudig die hekkie met hout kosyn en al uit die muur uithardloop.

So kom Goggo met ‘n allemintige spoed by die toilette aan. Ek wonder of hy in sy oomblik van nood gewonder het hoekom die noodlot dan op die dag so teen hom was. Want , kan jy glo, die toilette se staal hek is ook gesluit.  Goggo laat hom egter nie van stryk bring nie en verander sy horisontale spoed , met ‘n 90 grade hoek, na vertikale spoed en vlieg oor daardie staal hek asof hy ‘n blou aap is.

Ons manne wat hom gevolg het kon hom dit nie nadoen nie en moes maar luister hoe die toilette se hout  deure klap soos hy hulle een vir een oop stamp en dan sien dat daar vreemd genoeg nie toiletpapier is nie.  Tot sy verligting het die laaste toilet darem wel ‘n rolletjie papier gehad en dit het hom net ‘n fraksie van ‘n sekonde gekos om sy broek af te pluk en ‘n gat in die kleefplastiek te slaan wat oor die sitplek gespan was voor dat hy die kringspiere kon verslap en probeer om sy asemhaling weer normaal te kry.

 

7 thoughts on “Lou warm water, Engelse sout en Jabulani Africa

  1. Ek ek seker Leon Schuster sal ‘n song hieruit kan maak (as hy nie reeds het nie) Soos wat jy vertel sien ek tonele uit een van sy flieks voor my verbyspeel. As ‘n man moet gaan, dan moet jy gaan!

Comments are closed.