R.I.P Lucas Maree

 

In 1997 het ek in ‘n musiek instrument winkel begin werk as ‘n verkoopsman. Daar, in die winkel, het ek die vooreg gehad om musikante van alle kleure en geure te ontmoet.

So het ek instrumente of toerusting verkoop aan manne soos Coenie de Villiers, Danie Niehaus, Kevin Leo , Mathys Roets en ‘n baie besonderse mens genaamd Lucas Maree.  Ek onthou, soos gister, die eerste keer wat ek vir Lucas ‘n nuwe mikrofoon moes gaan demonstreer in die Bloemfonteinse Stadsaal een aand na werk. Lucas en sy toerusting was reeds opgestel op die verhoog en ek het net nodig gehad om die mikrofoon in te prop en reg te plaas voor sy kitaar sodat hy kon hoor hoe die klank reproduksie is. Lucas het ‘n G akkoord op sy kitaar gespeel en toe die klanke wegsterf in die saal gesnuif en met sy diep stem vir my gevra :”Wat …. kos … dit …?”. Ek het hom gesê en hy het daardie aand die mikrofoon by my gekoop op voorwaarde dat ons nooit vir Ilse sy vrou sou vertel hoeveel die mikrofoon gekos het nie.

Dit was die begin van die voorreg wat ek gehad het om vir Lucas mens te leer ken. Gereeld sou Lucas by ons in die musiek winkel kom sit en koffie drink en stories vertel het. En gereeld het Lucas een of ander instrument of toerusting gekoop  op die voorwaarde dat Ilse nie mag weet nie. Ek weet ook dat Ilse elke keer wel uitgevind het van Lucas se aankope wanneer sy haar maandstaat vir hulle rekening kom haal het. Maar dan was dit te laat want Lucas het reeds die nuwe toerusting gebruik.

Ek het uit Bloem getrek en het kontak verloor met Lucas tot ek 6 jaar later weer in Bloem gaan bly het. In daardie 2 jaar voor ek weer moes trek het ek die absolute voorreg gehad om op ‘n amper weeklikse basis saam met Lucas by Oliewenhuis te gaan ontbyt eet. Aan die begin was dit altyd 2 x gebakte eiers met spek en roosterbrood en gebraaide sampioene en kaasworsies en bodemlose koffie. Later , toe sy gesondheid hom begin pla, het hy begin om gesondheids ontbyte te eet, terwyl ek by de ongesonde opsie gebly het. Daar sou ek en Lucas onder die bome sit en kuier en gesels oor die dinge van die lewe tot na 12 in die middag. Daardie kuiertjies was goed vir my siel en my ‘sanity’ en ek sal hom altyd dankbaar wees vir die feit dat ek kon deel in sy lewe en sy mens wees. Lucas was ‘n wonderlikke mens met ‘n baie skerp sin vir humor en ‘n hart vir mense.

Ons wêreld sou kon doen met nog ‘n miljoen van sy soort.

Rus in vrede my vriend.

(ek weet nie wie die foto geneem het nie, ek het dit op die internet gekry)

4 thoughts on “R.I.P Lucas Maree

Comments are closed.