My Leatherman word ‘n draadstroper

Ek was nog altyd ‘n man vir ‘gadgets’. Ek vrek oor goeters met knoppies en oor ‘multi-tools’ soos die leatherman op die foto hier langsaan.

Met my Leatherman wat altyd aan my gordel is het ek al baie goed reg gemaak of uitmekaar uit gehaal om ‘n fout te soek. Met ‘n goeie ‘multi-tool’ is ek gereed om enige DIY taak aan te pak.

Omdat ek so ‘n ekspert is deel ek dan ook graag met julle die stappe om jou Leatherman in ‘n draadstroper (wirestripper) te verander. Hoewel ek hierdie tegniek persoonlik op ‘n Leatherman getoets het kan dit ook met groot sukses op enige and ‘multi-tool’ of selfs ‘n ‘side cutter’ gebruik word.

  1. Kry gemaklik jou sit op die bed.
  2. Kry die bedlampie se dubbel koor draad waar jy die skakelaar wil aanbring.
  3. Kry jou Leatherman gereed. Maak hom oop sodat jy die tang/knipper kan gebruik
  4. Neem die draad in jou linkerhand
  5. Neem die Leatherman in jou regterhand
  6. Kies die plek op die draad waar jy wil knip om die skakelaar aan te bring.
  7. Knip !
  8. Skrou klip hard “BLIKSEM!!” en enige ander goeie krag woorde wat op daardie oomblik in jou brein inskiet.
  9. Wag tot die sterretjies voor jou oë verdwyn.
  10. Trek die duve uit jou hol uit waar hy in gesuig is van die skrik.
  11. Staan van die vloer af op waar jy jou nou bevind.
  12. Wag tot jou bene nie meer so heeltemaal wankelrig voel nie.
  13. Val bo oor die bedlampie wat op die vloer lê terwyl jy garage toe sukkel om die krag te gaan aansit.
  14. Paai die honde en vra die kinders om die kat te gaan soek.
  15. Bring sommer by voorbaat die leer saam terug om die leatherman uit die plafon uit te trek waar hy punt eerste vassit.
  16. Vra vir mamma omverskoning omdat jy so vreeslik lelik gepraat het.
  17. Gaan haal die lugvervrisser om die erge swael rook reuk in die kamer te probeer verdoesel.
  18. Maak ‘n nota om volgende keer die kamer se dak lig aan te sit en die bedlampie wat die skakelaar moet kry uit te prop voor jy die draad knip.

11 thoughts on “My Leatherman word ‘n draadstroper

  1. Hehe! Jy skryf so beskrywend ek het die hele episode duidelik voor my sien afspeel! Excellent Adoons! 🙂

    • Ek lag gewoonlik te veel om nog te bewe ook.

      ‘n Pel het nou die dag die blog gelees en my herhinner dat ek bogenomde al 2 keer reg gekry het.

Comments are closed.