Wat as die omie reg is ?

Almal het nou al daaroor geskryf. Baie het al daaroor gelag. Sommige het hom geglo. En oral op die radiostasies bespiegel die mense. Nou kan ek nie anders as om ook maar hardop te wonder soos so baie ander  nie.

Wat as oom Harold reg is ? Wat as môre die laaste dag is ?

Glo ek dat môre die laaste dag is ? Nee.  Maar hoekom nie ? Selfs in die bybel was daar ‘n knaap wat in ‘n dorp ingeloop het en die mense gewaarsku het dat God hulle dorp gaan vernietig. Hulle het hom geglo en God het hulle dorp gespaar. So as mense in die bybel vir Jona geglo het , hoekom glo ons nie vir oom Harold nie ?

Ek dink die antwoorde is baie uiteenlopend. Sommige glo hom nie , want hulle glo nie in God nie. Die Christene glo hom nie, want hulle sê dat Jesus die dinge voorspel het en dat niemand die tyd en die uur weet nie. Vir dieselfde rede glo ek ook dat oom Harold nie reg is nie.

Maar, is hierdie hele ding nie juis vir ons Christene ‘n wake up call nie? Dis waar; ons weet nie die tyd en uur nie, maar juis dit moet maak dat ons elke dag gereed is. Juis dit moet maak dat ons elke dag leef asof dit ons laaste is.  Die vraag wat ek myself moet vra is dit ; Is ek gereed as môre wel die laaste dag op aarde is ?

Ek sal die vraag so moet antwoord.  JA.  Ek het Jesus as my saligmaker aangeneem. Ek is gere(e)d.

Leef ek egter asof elke dag my laaste dag is ? Ek moet in skaamte my kop laat sak en sê :”Nee.”  Ek hoop die wederkoms is nie binnekort nie. Daar is nog te veel dinge wat ek graag sal wil doen en ervaar. Ek sal graag met ‘n motorfiets deur SA wil toer. Ek sal graag ‘n grilfriend/vrou wil hê.  Ek sal graag gelukkig wil wees. Ek sal graag die lewe ten volle wil ervaar. Die probleem is dat ek nie ‘in the moment’ leef nie. Vandag bestaan ek maar net. Vandag probeer ek maar net deur die dag se gesukkel kom. Vandag probeer ek maar net my kop optel en deur die dag sukkel .

Maar môre…  Miskien môre sal ek kan leef. Miskien môre sal ek ‘n bike hê. Miskien môre sal ek iemand vind om lief te hê. Miskien môre sal ek genoeg geld hê om my drome na te jaag. Miskien môre sal ek tyd hê. Miskien môre sal ek gelukkig wees. Miskien môre……

Miskien kom môre nie…………..?

2 thoughts on “Wat as die omie reg is ?

Comments are closed.