Doodgaan is maklik

In die laaste paar weke kyk ek gereeld na die Tv reeks House MD.  Ek kan so goed identifiseer met die Hoof karakter Gregory House se manier van deur die lewe gaan en hoe hy die lewe sien. In een van 2007 se episodes genaamd ‘Games’ sê Dr. James Wilson op ‘n stadium vir House die volgende woorde :” Dying is easy! It is living that’s hard!”

Hoe meer ek daaroor dink , hoe meer moet ek met daardie aanhaling saamstem. Om dood te gaan is maklik. Jy begin dit outomaties doen die dag wat jy gebore word.  Maar om te lewe. Om werklik te lewe , dit is bitter moeilik.

In Johannes 10:10 sê Jesus : “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”  Die dief kom net om dood te maak. As  die duiwel sy sin gehad het was ons almal geestelik en emosioneel dood. As hy ons dan nie fisies kan dood maak nie , kan hy sy bes doen om ons geestelik en emosioneel dood te maak.  Die ergste is :Hy kry dit so maklik reg. In my lewe in elk geval.

Vir my is dit baie moeilik om elke dag te lewe. Ek bestaan elke dag. Ek haal asem en gaan werk toe en doen al die dinge wat mense doen. Maar soms wonder ek :” Leef ek regtig ?” Die hartseer antwoord is;  Nee.  Soms is ek so moedeloos en wanhopig dat ek hoegenaamd nie die lewe en die mooi dinge daarin raak sien nie.

Ek wil egter lewe. Ek wil elke dag ervaar en geniet en voluit lewe.  Ek wil daardie lewe in oorvloed ervaar.  Ek glo dat ek op hierdie aarde geplaas is deur ‘n Alwetende en Almagtige God wat ‘n doel het vir my lewe.  En op my reis deur hierdie lewe is dit my soeke , om uit te vind wat daardie doel is. Om ook die lewe in oorgawe te mag ervaar.

Ek begin egter agterkom dat dit nie so maklik is nie. Dat om te lewe ‘n keuse is. Dis maklik om dood te gaan. Maar dis baie moeilik om te lewe. Om te lewe vat uithou en aanhou en moed hou. Dit vat vasbyt.

Ek hoop dat ek eendag sal kan terug kyk op my lewe en sal weet dat ek geleef het. Dat ek hierdie wonderlike geskenk genaamd lewe gebruik en geniet het. Ek hoop dat ek sal kan terug kyk op my lewe en weet dat ek hom nie gemors het nie.

2 thoughts on “Doodgaan is maklik

  1. Waar ‘n wil is, is ‘n weg. Ek is SEKER dat jy eendag wel sal sien dat jy wel gelewe het. Die feit dat jy PROBEER is al SOVEEL werd!! Sterkte!!

  2. So klein bietjie van die onderwerp af, maar terwyl jy nou praat oor voluit leef.
    Ek sien bangbang club kom volgende maand uit as ‘n fliek.

Comments are closed.