The view from my window

Image

Ok , Ok. ek weet hierdie is eintlik ‘n afrikaanse blog en sommige van julle kla dat julle so vreeslik sukkel met die brits. So ek moes seker dan maar die titel iets gemaak het soos Die prentjie deur my venster.

Maar dit sou nou ook nie heeltemaal korrek gewees het nie , want tegnies is dit die uitsig deur my voordeur. Wat eintlik ‘n skuifdeur is en nie rerig ‘n hout voordeur soos julle dit sou ken nie. Maar nou ja , ek is seker julle kry die idee.

Eintlik het ek nog steeds nie rerig vreeslik baie om met julle te deel nie. In elk geval niks ‘profound’ of diep en insiggewend nie. Vir die laaste drie en ‘n half jaar trap ek maar water en probeer ek my kop net hoog genoeg hou om nie te versuip in die alleenwees en moedeloosheid wat dreig om my te oorweldig nie.

Ek glo dat daar ‘n rede moet wees hoekom die God van die Heelal my op hierdie tyd ophierdie aarde en in hierdie plek gesit het. Ek wens net dat Hy daardie geheim met my wil deel want ek het nie die vaagste idee nie.

En dan probeer ek baie hard om te glo dat daar erens ‘n meisiekind is wat bedoel is om my ‘soulmate’ te wees. Maar stadigaan begin ek geloof en moed en hoop verloor vir daai een. Gister terwyl ek in die kerk sit vir die goeie Vrydag diens het ek so oor die mense in die gemeente gekyk. En twee dinge het my opgeval. Een was die hoeveelheid mense van my ouderdom wat in die kerk was. Eintlik eerder die gebrek aan mense my ouderdom. En dan was daar die hoeveelhied (of gebrek dan) aan enkelopende dames van my ouderdom. En dit maak my bang. Ek is nou amper drie en ‘n half jaar geskei. Wat beteken dat ek vir die laaste drie en ‘n half jaar alleen is. Eintlik langer as jy die laaste jaar of wat van my huwelik bytel.

Ek wonder hoeveel mense rondom my besef wat dit beteken om vir drie en ‘n half jaar lank elke aand na werk in ‘n lee huisie in te stap. Om ‘n bietjie Tv te kyk terwyl jy kos maak en eet. En dan maar te gaan slaap. Om more oggend op te staan en te gaan werk. En more aand huis toe te kom en die siklus te herhaal. Ag wat , kom ons wees nou maar eerlik , selfs as daar iemand is wat verstaan het , sou dit nie ‘n verskil gemaak het nie. So….

Miskien gee hierdie gesanik vir julle ‘n idee hoekom ek die laaste ruk so stil was op die blogs. Ek wil nie heeltyd klink of al wat ek doen kla en ‘moan’ is nie. So dan skryf ek maar eerder nie die ‘deep dark thoughts’ wat in my kop draai nie.

So – dankie vir die van julle wat hier gelees het. Ek sal probeer om nie te gou weer so ‘n treurmare te blog nie. Maar dit is die prentjie deur my venster op die oomblik. As jou prentjie beter lyk, dan is ek bly vir jou en ek hoop jy is dankbaar daarvoor. En as jy ‘n lewensmaat het wat vir jou lief is en omgee, gaan gee nou dadelik vir hom of haar ‘n druk. En moet nooit ooit daai spesiale mens in jou lewe as vanselfsprekend aanvaar  nie. Vat die woord van iemand wat weet hoe lyk die prentjie aan die anderkant….

3 thoughts on “The view from my window

  1. Van iemand wat ook vir vyf jaar lank daardie prentjie gesien het wat jy sien – hou moed. Net toe ek vrede daarmee gemaak het dat ek voortaan alleen sou wees en dit regtig bedoel het, toe ontmoet ek my lewensmaat.

    Intussen verstaan ek presies hoe jy voel, as dit jou sal help!

Comments are closed.