Ek is nie ‘n biker nie.

Ek voel myself genoop om bogenoemde stelling op rekord te plaas. Ek is baie beslis nie ‘n biker nie.  Ek ry ‘n motorfiets, dis waar, maar ek is nie n biker nie. Ek ry ‘n avontuurfiets. ‘n Dubbeldoel fiets.
‘n Storiefiets.

Ek ry ‘n motorfiets wat my toelaat om van die teerpad en die gejaag weg te kom. Wat my toelaat om die onbekende pad te gaan verken. Die pad met minder spore op.  Ek ry ‘n motorfiets wat my toelaat om die Skepping te ontdek en te geniet en te waardeer. Wat my toelaat om asemwegslaanoomblikke te beleef as ek om die eerste draai kom op pad na Gamkaskloofdam en die Bosluiskloof maak voor my oop.  Of as ek oor Katbakkkies pas ry en die Cederberge se mooi kom lê in my hart. Of oor Oubergpas van Sutherland af en die hele Tankwa karoo kom lê voor jou oopgesprei. Waar jy van horison tot horison kan sien en dit voel of die oopte en die ruimte jou gaan verswelg.

Dis dan wat ek besef hoe klein en hoe nietig die mens is.  Dis dan wat ek weer van voor af dankbaar is vir die gawe en die voorreg om so ‘n fiets te kan ry. En dis dan wat ek weet. Ek is nie ‘n biker nie. Ek ry my fiets vir die ervaringe en die seeninge wat hy my toelaat om te ervaar en nie vir hoe hy my kan laat lyk nie.

One thought on “Ek is nie ‘n biker nie.

  1. Dis hoe dit moet wees. Baie van hierdie Harley Davidson manne veral, is so ingestel op dressing up, hoe hulle lyk. Ek dink hulle spandeer ‘n fortuin daaraan. Ek vind dit aansitterig. Dis nie vir my hoe ‘n man moet wees nie.

Comments are closed.