Oor meisiekinders en alleen bobejaantjies

When I see you

Ek het nou die dag op n website afgekom met n klomp kwotasies deur een van my favourite outers genaamd Terry Pratchett. Een van die kwotasies was die een :

“There have been times, lately, when I dearly wished that I could change the past. Well, I can’t, but I can change the present, so that when it becomes the past it will turn out to be a past worth having.”
― Terry Pratchett, I Shall Wear Midnight

Ek dink dis iets wat ek ‘n punt moet maak om te onthou en as ‘n lewens motto moet aanwend.

Soos ek hier is sit is my kop en my hart maar redelik deurmekaar. Ek het onlangs ‘n vreeslike oulike meisiekind ontmoet. Eintlik het ek haar die eerste keer al meer as ‘n jaar terug ontmoet. En ek kan nog goed onthou hoe my ore gespits en my stertjie gewaai het ( gebruik maar julle verbeelding. Maar dalk nie te veel nie) . Ek glo nie in ‘Love at first sight’ nie. Maar ek glo dat daar tog iets moet wees wat my aantrek.  Miskien laat ek myself te veel toe om deur eerste indrukke beinvloed te word. Hoe dit ook al sy. Met eerste indrukke het ek onmiddelik in die meisiekind belang gestel. En so oor die laaste 18 maande het ons mekaar so nou en dan raakgeloop of per sms gekontak. Ek het haar n paar keer op my lomp manier probeer nooi om saam met my te gaan koffie drink. En uiteindelik het ek maar tou opgegooi.

Tot ek onlangs weer van haar gehoor het. En die kans gehad het om n bietjie tyd saam met haar te spandeer. En haar net ‘n klein bietjie beter te leer ken.

En daar gaan staan en verloor ek my ou hartjie heeltemaal. En ek kan die meisiekind nie uit my kop uit kry nie. Ek vang myself kort kort dat ek aan haar dink en wonder hoe dit met haar gaan of wat sy doen. Tot ek nou die dag maar vir haar ‘n briefie geskryf het en probeer verduidelik wat in my kop aangaan. (Sonder om haar af te skrik en die vlaktes in te jaag).  En wonder bo wonder het sy my geantwoord.  Die antwoord wat ek gekry het was presies soos ek iemand sou antwoord wat ek nie in belangstel nie , maar hulle gevoelens wil spaar.

So nou moet ek maar vrede maak dat sy nie so in my belangstel nie. Ek weet in elk geval nie wat my laat dink het dat ‘n meisiekind soos sy in ‘n vaal ou bobejaatnjie soos ek sal belangstel nie .Ek moet maar vrede maak dat sy ons vriendskap waardeer , maar dat daar niks meer as dit sal wees nie. (en die klein stukkie hoop in my wil bysit- vir nou). En dis ok. Ek sal dit maar so aanvaar. Wat anders kan ek in elk geval doen ?

Maar ai . Ek kry nie die meisiekind uit my kop uit nie.

Ek hoop sy sal geluk vind. Ek hoop sy sal weer eendag die lewe aanpak met daardie vreeslike mooi glimlag van haar. Ek hoop sy sal iemand ontmoet wat haar voete onder haar uit slaan en haar met liefde en respek sal hanteer. Ek hoop regtig vir net  die beste en die mooiste goed in die lewe.

En ek kan nie help om te wonder of daar iewers dalk ‘n meisiekind vir my ook is nie ? Want die vet weet , mens is nie gemaak om alleen te wees nie.