Oor meisiekinders en alleen bobejaantjies

When I see you

Ek het nou die dag op n website afgekom met n klomp kwotasies deur een van my favourite outers genaamd Terry Pratchett. Een van die kwotasies was die een :

“There have been times, lately, when I dearly wished that I could change the past. Well, I can’t, but I can change the present, so that when it becomes the past it will turn out to be a past worth having.”
― Terry Pratchett, I Shall Wear Midnight

Ek dink dis iets wat ek ‘n punt moet maak om te onthou en as ‘n lewens motto moet aanwend.

Soos ek hier is sit is my kop en my hart maar redelik deurmekaar. Ek het onlangs ‘n vreeslike oulike meisiekind ontmoet. Eintlik het ek haar die eerste keer al meer as ‘n jaar terug ontmoet. En ek kan nog goed onthou hoe my ore gespits en my stertjie gewaai het ( gebruik maar julle verbeelding. Maar dalk nie te veel nie) . Ek glo nie in ‘Love at first sight’ nie. Maar ek glo dat daar tog iets moet wees wat my aantrek.  Miskien laat ek myself te veel toe om deur eerste indrukke beinvloed te word. Hoe dit ook al sy. Met eerste indrukke het ek onmiddelik in die meisiekind belang gestel. En so oor die laaste 18 maande het ons mekaar so nou en dan raakgeloop of per sms gekontak. Ek het haar n paar keer op my lomp manier probeer nooi om saam met my te gaan koffie drink. En uiteindelik het ek maar tou opgegooi.

Tot ek onlangs weer van haar gehoor het. En die kans gehad het om n bietjie tyd saam met haar te spandeer. En haar net ‘n klein bietjie beter te leer ken.

En daar gaan staan en verloor ek my ou hartjie heeltemaal. En ek kan die meisiekind nie uit my kop uit kry nie. Ek vang myself kort kort dat ek aan haar dink en wonder hoe dit met haar gaan of wat sy doen. Tot ek nou die dag maar vir haar ‘n briefie geskryf het en probeer verduidelik wat in my kop aangaan. (Sonder om haar af te skrik en die vlaktes in te jaag).  En wonder bo wonder het sy my geantwoord.  Die antwoord wat ek gekry het was presies soos ek iemand sou antwoord wat ek nie in belangstel nie , maar hulle gevoelens wil spaar.

So nou moet ek maar vrede maak dat sy nie so in my belangstel nie. Ek weet in elk geval nie wat my laat dink het dat ‘n meisiekind soos sy in ‘n vaal ou bobejaatnjie soos ek sal belangstel nie .Ek moet maar vrede maak dat sy ons vriendskap waardeer , maar dat daar niks meer as dit sal wees nie. (en die klein stukkie hoop in my wil bysit- vir nou). En dis ok. Ek sal dit maar so aanvaar. Wat anders kan ek in elk geval doen ?

Maar ai . Ek kry nie die meisiekind uit my kop uit nie.

Ek hoop sy sal geluk vind. Ek hoop sy sal weer eendag die lewe aanpak met daardie vreeslike mooi glimlag van haar. Ek hoop sy sal iemand ontmoet wat haar voete onder haar uit slaan en haar met liefde en respek sal hanteer. Ek hoop regtig vir net  die beste en die mooiste goed in die lewe.

En ek kan nie help om te wonder of daar iewers dalk ‘n meisiekind vir my ook is nie ? Want die vet weet , mens is nie gemaak om alleen te wees nie.

Random ramblings

Image

Nou ja, soos Oom Dominee Donkie dan ook opgemerk het , is ek terug. Dis nou terug hier in die blogosphere. Ek is nie so seker dat dit ‘n goeie ding is nie. Sien , die ding is dat ek gewoonlik begin skryf en blog as dit nie met my goed gaan nie.

Maar nou moet julle nou ook nie dat daai stelling julle onder die valse idee plaas dat dit met ander woorde goed gegaan het met my in die tyd wat ek so stil was nie. Ek spartel maar om my kop bo water te hou. Ek wens ek kan die sin in die lewe raaksien. Ek wens ek kan meer uit die lewe kry as om net werk toe te gaan en huis toe te kom. Eintlik smag ek net daarna om weer ‘n meisiekind in my lewe te hê. Want ek dink darem nou wragtag dat drie en ‘n half jaar se alleen wees darem nou genoeg is.

Daar is ‘n helse klomp vrae , gedagtes en worstellinge in my kop , maar ek weet nie of dit so ‘n goeie idee is om dit hier op ‘n paar ‘unsuspecting’ lesers te kom laat val nie. Dalk skrik die dinge in my kop die laaste paar lesers ook finaal af.

Nou ja, dis seker genoeg ‘random ramblings’ vir een aand.

O ja – die foto hierbo is geneem een Volmaan aand. Die wolke is so van agter af bo die Hottentots Holland berge verlig deur die Volmaan wat net besig was om sy kop uit te steek.

Wat sal ek dan nou sê..

…oor die dag van vandag ?

Vandag sou my 12de huweliks herdenking gewees het. Maar die lewe het die snaakse manier om anders uit te werk as wat ‘n mens beplan het. En soms kom skop hy jou in die tande; want hy kan. En so is ek nou al vir 2 jaar en ‘n handvol dae geskei.

In die laaste twee jaar het ek al hoe onfikser en al hoe groter geword todat ek in Augustus van 2010 besluit het om ‘n plan te maak. Vanaf Augustus tot November het ek baie gesonder begin eet en baie gaan stap. In die proses het ek fase een van operasie tjoep afgehandel en my gewig af gekry vanaf 141kg tot by 120. En toe kom al die jaareind funksies en kersfees en so aan. Vreemd genoeg het ek net 1 kg opgetel oor daardie tydperk, maar ek het ook opgehou stap.

En so het ek dan toe op hierdie dag van vandag besluit dat dit tyd is om fase 2 van operasie tjoep aan te pak. Fase 2 gaan behels dat ek my gewig gaan afkry vanaf 121 tot by 100. En ek weet nou al dit gaan harde werk wees.  Ek het vanaand vir die eerste keer in 2 maande weer gaan stap en ek moes tot my skok agterkom hoeveel van my fiksheid ek weer verloor het.

So… hou die spasie dop. Want hier gat ek weer.