My Leatherman word ‘n draadstroper

Ek was nog altyd ‘n man vir ‘gadgets’. Ek vrek oor goeters met knoppies en oor ‘multi-tools’ soos die leatherman op die foto hier langsaan.

Met my Leatherman wat altyd aan my gordel is het ek al baie goed reg gemaak of uitmekaar uit gehaal om ‘n fout te soek. Met ‘n goeie ‘multi-tool’ is ek gereed om enige DIY taak aan te pak.

Omdat ek so ‘n ekspert is deel ek dan ook graag met julle die stappe om jou Leatherman in ‘n draadstroper (wirestripper) te verander. Hoewel ek hierdie tegniek persoonlik op ‘n Leatherman getoets het kan dit ook met groot sukses op enige and ‘multi-tool’ of selfs ‘n ‘side cutter’ gebruik word.

  1. Kry gemaklik jou sit op die bed.
  2. Kry die bedlampie se dubbel koor draad waar jy die skakelaar wil aanbring.
  3. Kry jou Leatherman gereed. Maak hom oop sodat jy die tang/knipper kan gebruik
  4. Neem die draad in jou linkerhand
  5. Neem die Leatherman in jou regterhand
  6. Kies die plek op die draad waar jy wil knip om die skakelaar aan te bring.
  7. Knip !
  8. Skrou klip hard “BLIKSEM!!” en enige ander goeie krag woorde wat op daardie oomblik in jou brein inskiet.
  9. Wag tot die sterretjies voor jou oë verdwyn.
  10. Trek die duve uit jou hol uit waar hy in gesuig is van die skrik.
  11. Staan van die vloer af op waar jy jou nou bevind.
  12. Wag tot jou bene nie meer so heeltemaal wankelrig voel nie.
  13. Val bo oor die bedlampie wat op die vloer lê terwyl jy garage toe sukkel om die krag te gaan aansit.
  14. Paai die honde en vra die kinders om die kat te gaan soek.
  15. Bring sommer by voorbaat die leer saam terug om die leatherman uit die plafon uit te trek waar hy punt eerste vassit.
  16. Vra vir mamma omverskoning omdat jy so vreeslik lelik gepraat het.
  17. Gaan haal die lugvervrisser om die erge swael rook reuk in die kamer te probeer verdoesel.
  18. Maak ‘n nota om volgende keer die kamer se dak lig aan te sit en die bedlampie wat die skakelaar moet kry uit te prop voor jy die draad knip.

Pappa wag vi jou….

Oom Herklaas Viljoen* was ‘n goeie man. Goed vir sy mense en lief vir sy vrou en kinders. Oom Herklaas het geboer daar anderkant Bothaville. Oom Herklaas was bang vir niks. Wel, amper niks. Oom Herklaas was bang vir niks , behalwe vir tronk toe gaan. Vir een of ander rede wat die mense nooit kon verklaar nie , was Oom Herklaas dood bang vir tronk toe gaan. Skuldig of ontskuldig, maak nie saak nie.  Natuurlik het die onlangse TV advertensies vir dronk bestuur glad nie nie gehelp nie.   As daardie laaste man op die TV sê:”Pappa wag vi jou.”, het Oom Herklaas so ‘n benoude kyk in sy oë gekry en die kanaal verander.

Gepraat van dronkbestuur… Oom Herklaas het ook een groot passie in die lewe gehad. Rugby. Maar meer presies , die dorpspan se klub rugby. Self het hy nooit klub rugby gespeel nie, maar elke Saterdag as daar ‘n wedstryd aan was , was Oom Herklaas daar.  Vurig het hy op en af gehardloop langs die veld en die manne aangespoor of die ref beledig na gelang van wie voorgeloop het.  En so , na elke wedstryd,  het Oom Herklaas dan saam met die manne in die dorp se kroeg die oorwinning gaan vier of die verloor gaan verwerk. En dan sou Oom Herklaas laat in die aand die pad terug plaas toe aandurf in wat net beskryf kan word as ‘n erg beskonke toestand.

So kom dat dit Oom Herklaas se vrou een Saterdag aand vir Dominee wakker bel. Eintlik was dit al vroeg Sondag oggend. Eers verwag Dominee die ergste , maar dan hoor hy dat Oom Herklaas weg is. Die familie het nou al almal gebel. Die kroegman beaam dat Oom Herklaas wel daar was , maar dat hy darem so net na middernag huiswaarts gekeer het. En geen van die boere langs die pad rapporteer dat hulle weet van ‘n ongeluk , of dat Oom Herklaas daar by een van hulle kom aanklop het vir hulp nie.  Hulle spreek af dat die familie van die plaas se kant af dorp toe sou ry om vir Oom Herklaas te soek , terwyl Dominee van die dorp se kant af plaas toe sou ry om te kyk of hy nie vir Oom Herklaas kan opspoor nie.

Dit is toe ook Dominee wat Oom Herklaas se bakkie vind waar hy netjies langs die pad afgetrek staan net duskant Albert Le Roux** se plaas opstal, met Oom Herklaas nog steeds agter die stuur. Oom Herklaas sit en tuur so in die verte in , en Dominee klim maar aan die passasiers kant in om te hoor wat die moeilikheid is.

“En nou , Oom Herklaas?”, vra Dominee
“Kyk daaaar.” seg Oom Herklaas terwyl hy in die verte in beduie. Dominee kyk, maar hy sien niks buitengewoon nie.
“Waar , Oom Herklaas ?” vra Dominee terwyl hy ook nou stip in die donker in tuur om te sien waarna Oom Herklaas wys.
“Daar man, kyk daar sit die bliksem” seg Oom Herklaas. Dominee kyk , maar hy sien nie die bliksem nie.
“Nee Oom Herklaas, ek is jammer, maar ek sien nie die bliksem nie.” waag Dominee nou ook maar die groot woord oor sy lippe.
“Kyk dominee, daar met die blou lig.” Dominee kyk , maar al wat hy sien is Albert Le Roux se ultraviolet gogga vanger se blou lig wat so tussen die takke deur flikker.
“Wie is daar by die blou lig Oom ?” vra Dominee.

“Die spietkop, man,” seg Oom Herklaas, “Kyk daar, die bliksem wag vir my!”

*nie sy regte naam nie.
** Ja ja – julle weet mos nou al , ook nie sy regte naam nie.

PS: Die storie is aan my vertel deur ‘n dominee. Ek het hom so effens aangepas en verwerk.

Los my..

My (ex) vrou was ‘n jeugpastoor by ‘n kerk in Bloemfontein. Een van die kerke wat daar in die binnnedorp (city centre) hulle bediening gehad het. Saam met haar was daar ‘n pastoor wat sy bediening meerendeels onder die ou mense gehad het.

So stap die pastoor een middag uit die kantoor uit om die draai na Star bakery toe om ‘n wegneem etetjie te gaan koop. Nou bokant Star bakery was daar ‘n paar woonstelle. Een van die woonstelle was gebruik deur ‘n groepie prostitute wat in die area met hulle talente gewoeker het.

Soos wat Abel(nie sy regte naam) toe so om die hoek stap na Star bakery toe kom een van diè dames van voor af na hom aangestap. Sy steek vas en trek haar rok so op in ‘n ‘sexy pose’ en wys vir Abel baie meer as net bobeen terwyl sy hom uitnooi om saam met haar sy midaag ete te kom geniet.

Die beste wat Abel se verskrikte brein by sy mond kan uit kry tewryl hy omdraai en weghol is om vir haar te sê :”Haai nee !! Los my!!!  Ek is vannie kerk!!”

Ek wou ook maar net vriendelik wees


(c) Adoonsie

So twee jaar na matriek gaan kuier ek by my vriend Gert op die plaas. Ek werk op daardie stadium vir die kerk as ‘n jeugpastoor en Gert swot B.Agric. Gert se pa het ‘n plaas gehad daar nady Hertzogville wat ek vermoed Gert in die tussentyd nou op boer.

So kom dit die aand dat Gert nog so ‘n bietjie moet swot vir ‘n vak wat hy die Maandag skryf en ek is verveeld. Ek besluit toe om so ‘n entjie buite in die veld te gaan stap. Toe ek buite kom besef ek dit is stik donker. Vir ‘n stadsjapie soos ek was dit vreemd om met so ‘n absolute donkerte te doen te kry. Ek kon regtig nie my hand voor my oë sien nie.

Maar nou ja – ek het gesê ek gaan stap en ek is nou buite so ek besluit toe om maar net so met die grondpad aan te loop.

Terwyl ek loop hoor ek ‘n vreemde geluid wat my n rukkie neem om te plaas. Uiteindelik besef ek dat die geluid wat ek hoor die suising van ‘n 28dikwiel se bande op die grondpad is. Ek besef toe dat dit een van die strooisbewoners is wat op sy baaisiekel in die grondpad op pad is terug huis toe.

Nou besef ek dat as ek nie die man kan sien nie hy my beslis ook nie in die pad gaan sien staan nie in die stik donkerte nie. Dus staan ek toe maar so net net van die pad af op die skouer en luister hoe man al hoe nader kom.

Terwyl ek nou so staan dink ek by myself hoe wonderlik die man se oë moet wees om in die donkerte te kan sien waar hy moet ry. Die gedagte laat my toe nou ook dink dat dit sou beteken dat selfs as ek hom nie kan sien nie , hy my sekerlik dan sal raaksien.

My ma het haar bes gedoen om haar spruite ordentlik en met goeie maniere groot te maak en met ma se opvoeding in gedagte besluit ek toe om darem die man ten minste vriendelik te groet as hy nou by my verby kom. Dis nou vir ingeval hy my kan sien. Ek wou nie hê hy moes dink ek is ongeskik nie. En toe die geluid van sy wiele dit vir my duidelik maak dat hy nou omtrent hier langs my moet wees waar ek net so langs die pad staan, toe groet ek hom  ook met ‘n: “Goeie Naand.”

Die geluide wat gevolg het was my enigste hulp om die volgende paar sekondes se gebeure te probeer ontsyfer.

In ‘n redelikke kort tydsbestek het ek gehoor hoe die man ‘n baie benoude ‘Hau !!’ uiter, gevolg deur die klank van ‘n fiets wat op die gronpad neer kletter soos hy skoon bo-oor die handvatsels spring en die voetval van iemand wat hardloop asof sy lewe daarvan afhang wat al dowwer word in die stof pad.

Die volgende more het ek en Gert die ou dikwiel in die stofpad gekry daar waar hy gelos is.

Tot vandag toe wonder ek wat deur die arme man se gedagtes geflits het toe ‘n vreemde stem hier langs hom in die donker met hom gepraat het.

Ek sit nou met ‘n yslike probleem

Sien, Jan Twak het my mos nou gaan staan en ‘tag’ om ook my beste naam-gat-maak-storie te kom vertel. Die probleem is , dat na so ‘n meesterstuk soos Jan s’n (Die storie en die naam-gat-maak) is daar nie ‘n manier wat ek met iets sal kan opkom wat daarby sal kan kers vashou nie.

Die beste wat ek sal kan doen (en ek weet nou al dit gaan vêr te kort skiet) is om maar met iemand anders se kallers te ploeg.

Ek het in my lewe al ‘n hele klompie werke gehad. Onder andere het ek ook in ‘n hele paar 1 uur foto ontwikkelaars gewerk. Eendag bring ‘n dame, ‘n baie gereelde en goeie  klient in haar  middel dertigs, vir my ‘n stuk of 5 geheue kaarte vir haar kamera en vra of ek nie die inhoud van die kaarte vir haar op ‘n CD kan sny nie. Sy weet nie wat op die kaarte is nie   , maar as dit moontlik is kan ek sommer die fotos saam met haar nuwe kamera se fotos op ‘n CD sit, dan kan sy ook sommer sien wat op die ander kaarte is. Die nuwe kamera het ‘n klomp fotos op van haar kind se hokkie wedstryd wat hy graag vir sy maatjies wil wys.

Nou ja, die versoek is nie te moeilik nie en ek sê vir haar dat sy die volgende dag haar CD sal kan kom haal.

So sit ek toe die middag en kopieer die fotos van al die kaarte af na die CD toe. Todat ek by die laaste kaart kom en die ‘thumbnails’ van die fotos op my skerm verskyn. Nou kyk , ek was teen daai stadium darem al so 6 jaar getroud en soos dit is , is daar min dinge wat ‘n mens nie êrens in jou lewe agter ‘n foto drukker in ‘n ‘1hour lab’  te siene kry nie.  Ek het besef dat as ek nou die fotos op die kaart saam met haar seun se hokkie fotos op dieselfde CD sit gaan, ek dalk haar 11 jarige seun en sy maatjies se kennis van die menslike anatomie en sy werkinge dalk baie vinnig, baie baie gaan verbreed. Nie dat die seun of sy maatjies dalk sou omgegee het nie. Maar ek het  vermoed dat Ma en Pa dalk nie  met hulle spruit (en sy maatjies) daardie tipe van dinge sou wou deel nie.

Ek plaas toe maar die fotos  op ‘n ander CD met die doel om dit vir haar apart te gee sodat dit nie in boetie se hande beland nie. Nou moet ek noem dat mevrou X ‘n baie gesofistikeerde en konserwatiewe dame was. Nou nie die tipe wat graag haar fotos van dit wat sy en manlief in hulle privaatheid doen met ander sal wil deel nie.

Die volgende middag stap mevrou X toe ook in die winkel in en ek besef dat ek die ou saakie nou met vreeslik baie takt sal moet aanpak.  Ek gee toe vir haar die CD met al die fotos op en gee toe vir haar die ander CD terwyl ek noem dat sy liefs die ander CD maar moet kyk as die kinders nie by is nie. Ek het gehoop dat die verduideliking genoeg sou wees om ons altwee ‘n moerse verleentheid te spaar, maar ongelukkig vang sy toe nie die skimp so mooi nie en dring aan om te weet wat op die CD’s is. In teendeel sy vra of ons nie sommer gou na die fotos kan kyk op die rekenaar  in die winkel nie.

Ek hou vol dat dit nie ‘n goeie plan is nie en dat sy maar eerder die fotos rustig en alleen by die huis moet gaan kyk.  En steeds vang die dame nie skimp nie en wil nou redelik ernstig weet wat op die CD’s is.  Al wat ek kon doen sonder om dit nou vir haar in grafiese detail te beskryf was om te noem dat die fotos is van ‘n besliste volwasse natuur.

En daar kan ek sien hoe die liggie vir haar aangaan. Ek het haar eintlik vreeslik jammer gekry. Ek kon sien hoe haar brein deur al die moontlikke opsies sif en by die regte een uitkom. Eers word sy spier wit. En toe bloos sy bloedrooi  voordat sy haar CD’s en handsak gryp en by die winkel se deur uitvlug sonder om te betaal. Dit moes beslis vir haar baie baie moeilik gewees het.

Die volgende dag het haar man tyd by die werk af geneem om my persoonlik om verskoning te kom vra vir die hele penarie. Die fotos was fotos wat hy geneem het en gedink het hy het uitgevee. Dit was ook die laaste keer wat ons mevrou X in ons winkel as ‘n klient gehad het.  Van daardie dag af het sy haar fotos by ander winkel ontwikkel. Ek dink ook nie ek het haar ooit weer in ons inkopie sentrum gesien nie.